Forum 2.0

4000 Op die gevegsterrein

13 Toe Josua naby Jerigo was, het hy opgekyk. Reg voor hom staan daar skielik 'n man met 'n ontblote swaard in sy hand. Josua gaan toe na hom en vra hom: "Is jy vir ons, of vir ons vyande?" 14 Hy het geantwoord: "Nee, maar ek is die aanvoerder van die leër van die HERE; daarom het ek gekom." Jos. 5:13-14 BDV

Voor hulle Jerigo kon aanval het Josua, die aanvoerder van Israel se leër, die gevegsterrein alleen gaan verken. Moontlik wou hy die strategie bepaal wat hulle moes volg. Min het hy geweet dat die Here self tot die stryd sou toetree! Op die gevegsterrein ontmoet hy toe Een wat Homself bekend stel as die Sar HaTsava, die “leërowerste” van die HERE. Wie is hierdie Sar HaTsava? Dis die “Engel van die HERE”, oftewel Jahweh self, in ‘n sigbare verskyning. Dis Jahweh Sewahot, die HERE van die leërskare! Daarom trek Josua sy skoene uit, want hy was op heilige grond. Miskien was dit dáár dat die Here vir Josua die gevegsplan verduidelik het. Josua se magte kan bloot sy Naam roem, en sý magte sal die stad oorwin!

Jerigo is ‘n tipiese voorbeeld van die geestelike stryd. Wil jy ‘n vesting in jou lewe oorkom? Verken die terrein deeglik. Ontmoet die Here en kry sy plan. Betree die geveg moediglik. Juig oor die oorwinning! Hou vol tot die mure val.

Hemelse Aanvoerder, dankie dat U op hierdie gevegsterrein is. Dankie dat U oorwinning my oorwinning sal wees. Wys my wat mý aandeel in hierdie stryd is. Maak my getrou om dit stiptelik uit te voer! Amen.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkingskliek hier.
Om blokkering te verhoed stel asb. hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.
Om meer oor ons huidige reeks, NAAM BO ALLE NAME, te lees, kliek hier
© 2019 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –