Forum 2.0

4004 Sy Naam is Ontfermer

10 Ja, die berge mag wyk en die heuwels wankel, maar my troue liefde sal nie van jou wyk nie, en my vredesverbond sal nie wankel nie, het jou ontfermer, die HERE, gesê. Jes 54:10 BDV

In die mooiste taal verseker Jesaja die volk van die Here se deernis en liefde. Hy sê Jahweh Chasdi, die “HERE my Ontfermer”, sal hulle nooit, ooit verlaat nie. Die berge sal wyk en die heuwels wankel voor dit sal gebeur. Hulle is volkome veilig by Hom.

Ons moet verstaan dat ons nie ons redding in stand kan hou deur goeie werke nie. Dan sou almal verlore wees! Nee, die Here hou dit self in stand deur sy belofte. Hy maak ‘n plegtige verbond met ons, verseël deur die bloed van Jesus, waarin Hy sy troue liefde – sy “goedertierenheid” – beloof. Dis ‘n vredesverbond, sê die Woord, want dis onverbreekbaar. Jy kan dit maar glo, jy kan jou daarop verlaat. Die Here bly getrou, al is ons ontrou. Hy kán nie ontrou wees nie, dis onmoontlik! Jou redding, jou lewe en jou toekoms is nie in jou hande nie, maar in syne – en sy Naam is Ontfermer! Laat die Heilige Gees vandag vir jou hieroor vrede gee.

Groot Ontfermer, dankie dat u hart vol liefde is vir my. Dankie dat U reeds u redding en sorg en omgee aan my belowe het. Ek vertrou U daarvoor! Dit gee my groot vrede. Amen.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkingskliek hier.
Om blokkering te verhoed stel asb. hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.
Om meer oor ons huidige reeks, NAAM BO ALLE NAME, te lees, kliek hier
© 2019 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –