Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan. Gabriël verduidelik wat met Maria gaan gebeur en sy verstaan dit glad nie. Sy weet net God gaan iets in haar doen, sy gaan swanger word maar nie seks hê of trou nie, ‘n kind in die wêreld bring, en Hy gaan die Messias wees! Dalk was die hele boodskap bietjie oorweldigend en dis verstaanbaar. Sy moes egter wel gedink het aan die skande en verwerping as sy so ongetroud moes swanger word. Het sy gedink die gemeenskap sou haar storie oor die Heilige Gees en die Messias glo? Ek twyfel! Nee, verwerping en spot was haar voorland. Maar sy sê “JA” vir God, en daarmee word sy die voorbeeld van hoe God deur ‘n mens wil werk. Let op: God wil ook in jou en deur jou Homself aan die wêreld bewys. Hy wil dit in jou deur sy Gees doen. Hy verwag nie van jou om uit jou eie iets by te dra nie, of jou eie wil in te span nie. Jy hoef dit nie te verstaan nie. Hy vra dat jy net beskikbaar sal wees – passief oorgegee en gereed om gebruik te word. Doen wat Maria gedoen het en laat Hom die res doen! Here, ek is beskikbaar – gebruik my. Amen.

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –