4354 Naby jou, in jou

14 Nee, die woord is baie naby jou - in jou mond en in jou hart, sodat jy dit kan uitvoer. Deut. 30:14 BDV

Hier is Moses aan die einde van sy volk se reis en van sy eie lewensreis. God het gesê hy moet die berg Nebo opgaan, vanwaar mens die hele Beloofde Land kan sien. Hy sal dit sien en dan daar sterf. Eers hernu hy egter die volk se verbond met God. Hy moedig hulle vir oulaas aan om getrou te bly aan God se Woord. Hy sê dis nie moeilik of ver nie. Nee, dis naby hulle: in hulle mond en in hulle hart. Hulle moet moeite doen om God se wil te ken, te bedink, te bely en te beoefen.

Weet jy wat? God se wet en wil is vir ons NOG nader! Ons het die voorreg van die geskrewe Woord. Ons het ook die Heilige Gees in ons hart. As ons Hom vra, sal Hy sy wil aan ons bekend maak. Leer aan om elke nou en dan, as jy dit nodig het, stil te word en af te fokus. Vra: “Wat sê U, Here?”

Altyd-teenwoordige God, dankie dat U naby aan my is: in my siel en in my gees – nader as my eie asem. Lei my Here, deur u Heilige Gees, en maak my u wil bekend. Wek in my ‘n begeerte na u wil en u wet; help my om dit te ken en te sê en te doen. Amen.

BEDINK VANDAG: Wat sê U, Here?

  • Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.
  • Jy kan ook na hierdie oordenking luister op ons Facebook-Blad, kliek hier
  • Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.
  • © 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | jimileroux.com

8240615469?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –