4357 Drie generasies

4 Josua het die twaalf manne wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, ontbied. 5 Josua het vir hulle gesê: "Gaan voor die ark van die HERE julle God uit tot in die middel van die Jordaan, en tel elkeen dan self 'n klip op sy skouer, net soveel as die stamme van die Israeliete, 6 sodat dit kan dien as 'n teken onder julle.” Jos. 4:4-6a BDV

Josua het gesien hoe Moses, sy mentor, die Israeliete deur die Rooi See gebring het. Nou neem hy sy volk, wat net daarvan gehoor het, deur dieselfde ervaring. Hy lei hulle droogvoets deur die Jordaan en laat hulle daar klippe optel, waarvan hulle ‘n altaar bou by Gilgal. Dit was presies 40 jaar nadat hulle uit Egipte bevry is, weer op die Pasga. Wat ‘n belewenis!

Weet jy, in die geestelike lewe of in die kerk gebeur dinge dikwels soos volg. ‘n Groep mense beleef herlewing, leef intens met God en sien wonders gebeur. Hulle kinders sien hierdie dinge, maar beleef dit nie werklik persoonlik nie. Hulle vertel egter vir húlle kinders van die groot dinge wat in hul grootouers se tyd gebeur het. Daardie derde generasie, wat slegs daarvan hoor, staan egter nóg verder weg daarvan. Ek en jy moet ons kinders lei, en ons kleinkinders, om hul eie geestelike ervarings op te bou, ‘n eerstehandse, wonderlike, persoonlike verhouding met God. Dis wat Josua hier doen!

Wonderlike Vader, dankie dat U in pa en ma se lewe ‘n absolute realiteit was. Dankie dat ek by hulle kon sien hoe U werk. Dankie dat ek self ‘n verhouding met U kan beleef en u genade keer op keer kan ervaar. Help my om my kinders, en my kleinkinders, so te lei dat hulle U ook persoonlik kan ontmoet, en self kan ervaar wat ‘n wonderlike God U is! Amen.

BEDINK VANDAG: My kinders vir U, my kleinkinders vir U!

  • Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.
  • Jy kan ook na hierdie oordenking luister op ons Facebook-Blad, kliek hier
  • Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

© 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

8259417679?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –