Forum 2.0

Antwoord op... TRADISIE

Wat tradisie betref, moet ons ook soos met baie dinge tussen die ekstreme pole deurstuur. Aan die een kant: ons kan wel aan tradisie verstrik raak en baie godsdienstig raak (en ons kerk is mos ook so vreeslik tradisioneel). Mense het ‘n groot behoefte om weg te kom van “dooie ritueel”, “mensetradisies”, ens.  Aan die ander kant kan ons die baba met die badwater uitgooi.  Tradisies ontstaan omdat mense die waarhede wat hulle oor die Here ontdek het aan die volgende generasies wil oordra en hulle doen dit deur dit te kristaliseer, kan jy maar sê.  Dink aan:

·         Simbole – soos water, bloed, olie, brood, wyn, die kruis, kerse en wierook – ook die toga, akademiese band, ens.

·         Rituele – word geag as inisiasies, inlywings of oorgange, bv. die doop, verlowing, troues, bevestiging van lidmate of ampsdraers, begrafnisse, bid voor die ete, open die vergadering met gebed, die kerkraad se instap (introisie), eindig met die seën of ‘n sekere lied, rites of passage

·         Seremonies – word geag as die bevestings dat ons behoort of in ‘n sekere groep of seisoen is: nagmaal, ons vorms van die erediens (preek, sing, bid, alles – ook ons evangeliese en charismatiese kerk het “rites” en sterk tradisies), die kerklike jaar, stiltetyd e.a. geestelike dissiplines, gesinsaltaar, “sabbat” hou op ‘n sekere manier,  vaste maniere van doen soos bv. vergaderingprosedure, bid voor die preek

·         Kodes – ek dink aan ons formuliere, kategismusse en geloofsbelydenisse – ja ‘n sekere “amptelike” Bybelvertaling (ons soek om die waarheid finaal vas te maak)

·         Stories – die tipiese fundamentele verhale wat verklaar waarom ons dinge doen en hoekom dit belangrik is en wat ook ons eiesoortige kultuur verduidelik

Wat sou ons geloofslewe wees sonder dit? Feitlik niks!  En hierdie tendens geld vir alle vlakke van die samelewing – maatskappye het hul maniere van doen (tradisies), die parlement het hulle s’n, die weermag, skole, klubs, ja ook gesinne.  Dis eintlik baie mooi.  En om sommer te sê dat ons “teen alle tradisie” is, ens. is sommer onkunde wat spreek.  Dit beteken ons gaan elke begrafnis anders doen, en geen troue kan op tyd begin of voorspelbaar verloop nie, en ons gaan nie meer ‘n verlowing hê voor ons trou nie, of bid voor ons eet nie, ens.  Hulle bedoel eerder hulle is teen ander kerke se tradisies – of ons tradisies is beter as hulle tradisies... So iets!  Nee, ons MOET tradisies en gewoontes en dissiplines hê.  MAAR... die oomblik as ons iets vasmaak in vorm, dink ons ons kan dit in onafgewaterde vorm aan ons kinders en ander oorhandig.  Ongelukkig werk dit nie so nie, want die oorspronklike konteks wat vorm gegee het aan die spesifieke tradisies het alreeds verander.  Die daaropvolgende generasies voel dus die spanning tussen die tradisie en hulle kultuur aan en beleef dit as irrelevant.  Ek dink ons moet:

·         Verstaan wat tradisie as ‘n sosiale verskynsel is.  Tradisies het bv. ook ‘n ander funksie, nl. om die groepsgrense af te baken.  Dit is “sosiale merkers” – as ons bv. ons tradisie neem dat ons leraars nie mag rook nie, sal ons persone beslis uit die bediening weer wat rook, nie omdat dit so sterk in die Bybel aangespreek word nie (ander sake word baie sterkter onderstreep), maar omdat so een homself/haarself buite ons groep stel deur ons sosiale merkers te ignoreer (ons probleem is natuurlik dat ons sulke dinge sonder meer as belangrike Bybelse opdragte sien – die groot sondes – en tot die dood verdedig.  Ons werk dus met ‘n baie sterk hermeneutiese bril).  Ons moet ook verstaan hoe metafore werk in ons lewe en dat as ons met sulke groot dinge werk soos God, die lewe en die dood, die ewigheid, ens. ons dikwels met metafore moet werk om te kan verstaan.  Die sterkste metafoor dink ek is God as Vader, wat vir ons verskriklik baie van God sê, die antropomorfismes van God, populêre begrippe van die hemel en die hel, en vele meer.  Simboliese handelinge is metafories van aard.  Die belangrikste is dat ons die kontekste van ons tradisies moet verstaan.

·         Vergelyk: Ek dink ons moet oop bly vir tradisie en konteks, soos jy sê, en probeer bepaal wat die noodsaak of behoefte van ‘n bepaalde tradisie is.  Ons moet krities kan kyk na wat ons doen en hoekom ons dit doen en oop wees vir verandering.  Die modernistiese uitkyk was egter om te dink jy maak iets vir ewig vas, sonder om die konteks te verstaan.  Die hedendaagse generasies verwerp dit, maar het paradoksaal steeds ‘n behoefte aan kontemporêre tradisies.

·         Verander:  Tradisies wat steeds waarde toevoeg moet behoue bly en nuwe tradisies (soos die Bar Barakah wat jy noem) moet die hele tyd geskep word.  Gesinstradisies is ook baie kosbaar en mense soos Focus on the Family is baie sterk op die skep van sulke tradisies.  Dit maak die kinders vas in die gesinswaardes en gesinsverhoudings en dra waarhede oor.  Wat die kerk betref, vandag se “ancient-future” generasie wil wel gewortel voel in die antieke tradisie van die kerk en daar vind dus baie aansluiting plaas met die Vroeë Kerk, die kerklike jaar, geestelike dissiplines, simboliek, ens.  Daar is baie faktore van die post-moderne denke wat hier ‘n rol speel.

Ek hoop ek kry hierdie uitspraak reg: iemand het gesê Tradition is the living faith of dead people – traditionalism is the dead faith of living people.

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –