Forum 2.0


ALGEMENE BRIEF VAN 5 OKTOBER 2009 Goeiedag liewe Padlangs vriend Wat ek vandag wil deel is baie gewigtig en ek hoop dat jy ‘n minuut of vyf hiervoor kan gee. Padlangs kom al oor die nege jaar met ons saam en in ons huis het dit ‘n lewenstyl geword. Saans, naweke en vakansies word aan Padlangs gewy. Dit is ‘n passie in so ‘n mate dat ons skaars nog ‘n lewe het. As ek van my kantoor by my werk opstaan – ek is ‘n leraar by ‘n makrogemeente in Johannesburg – ry ek huis toe en gaan sit by my kantoor by die huis om daar aan Padlangs te werk. Ook Maryke werk twee dae per week voltyds vir Padlangs. So het Padlangs gegroei. Tans lees omtrent 6000 mense daagliks ons oordenkings in Afrikaans en Engels, in meer as 50 lande, en het omtrent 500 al ons kursusse gevolg. Ons het omtrent 600 boodskappies van dank en waardering op ons lêers en is daagliks besig met lering, bemoediging, voorbidding, begeleiding en berading. Dit is eintlik ‘n reuse bediening of “gemeente” opsigself. Nou is ons op die punt, in die Here se genade, dat ons dit voltyds kan bedryf – van 2010 af. Vir ons dit ‘n wonderwerk en die vervulling van ‘n jarelange ideaal. Ek het met ‘n swaar hart bedank by Mosaïek en ons gesin trek in Desember na 20 jaar terug Kaap toe. Die implikasies is enorm en een daarvan is die volgende: ons het regtig, regtig jou ondersteuning nodig. Terwyl Padlangs d.m.v. sy vennootskapsprogram reeds ‘n inkomste oplewer is dit nie genoeg vir ‘n salaris nie. Ons vertrou die Here dat Hy sal voorsien, soos Hy ons ook gelei het, maar weet ook dat sy voorsiening deur mense sal gebeur. Vriend, ek maak my hart nou oop en vra jou dus om die volgende te oorweeg vir die tyd wat voorlê – veral as jy Padlangs al ‘n geruime tyd kry of daardeur geseën is: • Ons het nodig dat mense Padlangs Bediening ondersteun met hulle tiendes of met gereelde maandelikse bydraes. Daarsonder kan geen bediening funksioneer nie. Beskou dit asb. as ‘n bydrae aan ‘n “gemeente”, ‘n bediening of ‘n sending. Of aan ‘n bedienaar, as jy wil. Ons het ‘n debietorder-ooreenkoms aangegaan met ‘n finansiële instelling wat jou en ons hiermee kan help. • Ons het nodig dat ons deur gemeentes as sendelinge aangeneem word. Ons sal graag met gemeentes in verhouding gaan, wat ‘n wedersydse wen-wen kan behels – ons kursusse, programme en begeleiding kan weer in die gemeente gebruik word. Verwys ons asb. na julle gemeente se leraar of sendingkommissie. • Ons het nodig dat mense op ons kursusse en programme inskryf. Omdat ons ‘n bydrae daarvoor vra, is dit deel van ons inkomste. Vir 2010 het ek ons bestaande kursus “Geestelike Vorming” heeltemal oorgewerk en uitgebrei. Dit het ‘n nuwe aanslag en vloei en selfs diegene wat dit al gedoen het sal weer daarby baat vind. Behalwe dit sal ons ook ander kursusse deur die jaar aanbied. • Ons het nodig dat mense op ons oordenkings inskryf. Dit bly die rugsteun van ons bediening. Stuur dit dus gerus aan, verwys mense of vertel hulle van na Padlangs. So kan ons bediening groei. Dit is wat op ons hart druk op hierdie oomblik. Ja, dis ressessie-tye, maar ons is nie angstig nie. Ons dink aan Thomas Merton se woorde: Ons weet nie waar ons gaan kom nie, maar ons weet ons volg Jesus. Dan wil ek baie dankie sê aan diegene wat reeds hierdie bediening ondersteun. Julle sal verseker die loon van ‘n profeet ontvang. Veral aan die anonieme persoon wat vir ons die laaste weke twee pragtige bedrae inbetaal het: baie, baie dankie! Ek wens ek kon jou persoonlik bedank. Jy weet nie watter verskil dit maak nie. Ons prys die Here. Vriend, ek seën jou. Jimi en Maryke le Roux Hieronder is dokumente wat meer inligting gee: - 'n Oorsig oor ons bediening - 'n Oorsig oor ons kursusse en programme - Ons pakket aan gemeentes - Vir ons debietordervorm, kliek hier - Vir meer inligting en voorbeelde van Geestelike Vorming 2010 kliek hier Kyk gerus ook na die kort video wat ek vir jou gemaak het: gaan na die hoofblad of kliek hier

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Replies are closed for this discussion.