Forum 2.0

Januarie Nuus - nuwe kursus!

Mag die jaar wat voorlê vir jou vol genade en seën wees,
mag die droogte breek en mag dit reën, ook in jou lewe.
Weet dat die Here jou gebed gehoor het, vriend
en dat sy liefde oor jou skyn. Amen!

'n Nuwe jaar - kan jy glo!

Ek sien daarna uit om vir nog 'n jaar die geestelike pad met jou te stap. Watter voorreg! As jy een van die 63% van mense is wat nuwejaarsvoornemens maak, maar dit werk nie uit nie, moet jy dalk gaan kyk na die kort video wat ek in die verband gemaak het. Daar is 'n beter manier! Kliek hier

Nuwe kursus!

Die groot nuus is natuurlik dat ons wegspring met 'n splinternuwe kursus. IN PRAKTYK gaan oor alledaagse Christenskap, 'n Christelike leefstyl. Ons MOET ons mense leer oor seks, mag en geld, nie net oor gebed, gawes en geestelike dinge nie. Die geestelike lewe speel immers af in die gewone lewe! Ons gaan dus praat oor eet en drink en rook en bestuur en bedelaars en baklei en seks en skuld en skinder en stres en vele, vele meer! Moenie dink die Bybel praat nie daaroor nie! O nee, die Bybel het baie te sê oor die "gewone lewe"! Ons gaan die Bybelse beginsels deurgee en dan ook sommer baie praktiese wenke! Vir volledige inligting en die eerste deel: kliek hier

Onthou, ons kleurvolle en relevante kursusse gaan weekliks aan diegene wat ons bediening ondersteun met 'n nominale bedrag. Dalk wil jy op die manier betrokke raak by die evangelie en self ook daardeur groei? Vir die besonderhede hieroor, kliek hier.

Daaglikse oordenkings

Ons daaglikse oordenkings skop ook weer af en ons gaan voort met VOLG MY, ons praktiese dissipelskap-program. Ons is tans besig met die tema van VERTROUE (oor geloof) en beweeg dan oor na FOKUS (waar ons God vind). Ons maak die basics van Jesus-volgelingskap prakties! Vir meer info oor hierdie reeks, kliek hier. Onthou, jy kan dit ook in oudio-formaat ontvang op WhatsApp - heerlik om na te luister! Kliek hier vir die hoe en die wat. 

Dis genoeg vir nou. Daar is baie om te doen - kom ons "doen" hierdie jaar met Jesus!

Seën vir jou!

Jimi en Maryke

 

Bid asb. saam met ons:

  • Ons bid vir groei en transformasie (vir nuwe vorme) vir 2018 - op elke terrein van ons bediening en persoonlike lewe. Sal jy saambid? Ons bid ook graag saam met jou!
  • Ons loof die Here vir sy grootheid, goedheid en getrouheid. Sy genade dra ons dag na dag en jaar na jaar. Dis al agt jaar dat ons voltyds in die geloof leef! Dankie, Jesus!
  • Ons moet asb. konstant, met verootmoediging en geloof, bid vir die reën in die Wes-Kaap - die situasie is ongekend en raak krities. So ook natuurlik vir julle behoeftes in julle eie kontrei. 

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies are closed for this discussion.