Forum 2.0

Maandelikse Nuus Julie 2017


Al weer 'n maand verby?

Sowaar! Dis heerlik middel-van-die-winter koud en net die regte tyd vir sop en brood, pannekoek of gebakte pastas met BAIE parmesaan. Aah - trooskos! Hierdie keer wil ek drie BELANGRIKE aankondigings maak:

 Ons nuwe kursus: Openbaring

Ons begin op 25 Julie met 'n SPLINTERNUWE KURSUS: "Openbaring, 'n Ope Boek". Is Openbaring vir jou Grieks? Maak al die visoene, beelde en getalle jou deurmekaar? Eintlik is Openbaring nie veronderstel om 'n geslote boek te wees nie, dis mos 'n OPEN-baring! Jesus neem die boekrol, breek sy seëls en rol hom OOP! Openbaring is 'n OPE BOEK - ons moet net verstaan wat al die simbole beteken. Daarvoor gaan ons maar net na die Ou Testament, want dis presies waar dit vandaan kom. In hierdie kursus gaan ons deeglik deur die hele Openbaring werk - ja, feitlik vers vir vers - en al die moeilike sake oplos (wel, sover as moontlik). Nadat jy deur hierdie kursus is, sal jy waarlik verstaan waaroor Openbaring gaan en 'n kenner wees van die Bybel (Ou en Nuwe Testament) se beskouing op die eindtyd. Stel jy belang? Kliek hier vir die inligting oor hierdie diepgaande, maar heeltemal verstaanbare kursus.

Pragtige prent!

Ek het weer 'n pragtige skermprent gemaak, met 'n heerlike eiergeel-dagbreek, wat jy in 'n japtrap kan aflaai vir jou rekenaarskerm. Kliek hier...

WhatsApp-luistergroep

Ons oordenkings is nou daagliks beskikbaar op ons Facebook-blad as 'n klanklêer. Olga Maartens lees dit vir ons pragtig voor - gaan luister gerus! Nou is daar 'n WhatsApp-groep gestig wat  die skakel na die klankweergawe daagliks ontvang. Jy kliek net op die skakel en luister dan na die oordenking. As jy wil aansluit, WhatsApp gerus vir Olga by +264 81 2790 454 of sien ons kennisgewing op Facebook: kliek hier.

Nou ja, vriend, dis dit vir Julie. Trek warm aan, onthou daardie sop (winkels verkoop ook nou heerlike klaargemaakte sop - onthou "kitssop" het geen kos in nie, kyk na die etiket!) en geniet elke aspek van die winter, ook die donker en die koud.

Mag die Here jou ryklik seën, mag jy oorloop van liefde, vreugde, vrede en hoop!

Jimi en Maryke

Bid asb. saam met ons:

  • Ons bediening moet nog groei - bid asb. vir seën, groter grondgebied en oop deure. Dankie...
  • Ons het persoonlik ook altyd gebed nodig. Sal jy ons ook voor die Here hou, asseblief?
  • Ons bid graag ook saam met jou... waarvoor?

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –