Forum 2.0

Maandelikse Nuus Junie 2017


Wintergroete!

Dis al weer 'n maand later en amptelik winter. Baie sê hulle winter is warmer as in die verlede - is dit by julle ook so? Hier by ons in die Kaap het ons ook nog nie die verwarmer uitgehaal nie en die damme is natuurlik steeds baie laag. My waterrekening was weer R18.65 laas maand, soos ons water spaar! As die stadsraad die teken gee sal ons seker wasgoed was vir dae: beddegoed, gordyne, komberse en al die klere wat maar so in die wasgoedmandjie bly lê. Natuurlik sal die vuil karre en vensters ook weer water kry. O - 'n ordentlike warm bad! Gelukkig kry ons nou dikwels reën, maar die werklike deurdringende en langdurige winterreën het nog nie gekom nie. Die les is sekerlik dat almal by klimaatsverandering moet aanpas - wisselvalligheid is ons voorland en sekere streke is besig om aansienlik droër te word. Landbou sal bv. moet verander - hele dorpe sal geraak word. Lees gerus ons kort kursus GroenGeestelik om te sien wat gebeur en hoe ons as Christene daarop moet reageer. Kliek hier vir meer besonderhede.

Die goeie nuus

Laat ek darem ook goeie nuus deel: 

1) ons huidige reeks oordenkings uit die Psalms, Leef met 'n Lied, is aanvaar as 'n boek by CUM en ek werk tans om die Engelse weergawe daarvan ook gereed te kry - gelukkig word my halwe Engels nie net so geneem nie, dit word netjies oorvertaal! Die boek sal sekerlik in volgende jaar iewers verskyn. Om meer oor hierdie reeks te lees, kliek hier.

  • Onthou, ons huidige dagboek by CUM - In die Lig van sy Genade - is pragtig en doen goed - 'n ideale geskenk! Dis ook in Engels beskikbaar. Kliek hier vir meer inligting.

2) Daar's nog goeie nuus: ons het so 'n tydjie terug 'n toets gedoen met klankweergawes van ons oordenkings op ons Facebook-blad. Dit het regtig ons verwagtings oortref en Olga Maartens het ingewillig om voortaan die klankweergawes pragtig en professioneel voor te lees en daagliks op ons Facebook-blad te sit. Olga werk by die onderwysdepartement in Namibië en het 'n drama-agtergrond. Luister gerus daarna - om dit te hoor is 'n heeltemal ander ervaring as om dit net te lees! Dis ook nuttig vir ouer mense of die met 'n sigprobleem. Kliek hier om na ons Facebookblad te gaan.

 Ten slotte

 Ek wil ten slotte net nog 'n paar skakels hier los:

1) Gaan kyk tog gerus na Lééf Tydskrif se webblad - Lééf is mos nou digitaal beskikbaar en nog net so pragtig. Ek skryf steeds vir maandeliks vir hulle 'n rubriek, "Dieper Water" - al vir ses jaar! Kliek hier.

2) Om al ons geestelike kursusse te bekyk, kliek hierSjoe, daar is al baie!

3) Om ons geestelike vrae en antwoorde te lees, ook oor meer as 70 temas, kliek hier.

Dis dit vir vandeesmaand, vriend! Mag die Here jou ryklik seën en jou oorvloedig maak in tye van skaarste. Baie dankie vir die saamstap op die geestelike pad.

Beste wense!

Jimi en Maryke le Roux

Bid asb. saam met ons:

  • Bid asb. vir ons bediening. Ons behoefte is altyd aan seën, groei, grondgebied, oop deure. Ons harde werk sal tevergeefs wees as die Here ons nie ook seën nie. Dank die Here dat Hy dit inderdaad vir ons moontlik maak om op hierdie wyse voltyds te kan bedien - wat 'n voorreg!
  • Bid ook vir ons persoonlik - ons kinders is verloof, né, en troureëlings word nou gemaak! Dis eintlik 'n wonderlike tyd, maar met sy eie uitdagings.
  • Kan ons saam met jou bid?

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –