Forum 2.0

Maandelikse Nuus Junie 2018

   

Hallo vriend!

Dis winter, né! Hier in die Kaap is ons bly vir die goeie reën tot op hede. Die damme is reeds voller as dié tyd laas jaar en dis ‘n goeie teken! Terselfdertyd moet ons maar aanpas by droeër omstandighede oor die algemeen, regoor die land, en moet ons besef ons sal na die klimaat moet kyk. As ons wil bid vir reën moet ons ook ons kant bring! Onthou, ons het ‘n oulike kort kursus oor die Christen en die klimaat – kliek hier om daarna te kyk, dis nuttig vir bv. die kleingroep. Dit sit die groot probleem – en die geestelike implikasies – mooi uiteen.

Winter skermprent

In elk geval, van winter gepraat, ek het vir ons ‘n mooi winter-skermprent gemaak. Ek het die foto (hieronder) op 2 Junie geneem op Melkbaai, Strand, waar ek baie middae stap. Vir my spreek die prent van ‘n regte Kaapse winterdag, een wat jou uitnooi vir sop of ‘n kaserige pasta, met ‘n goeie brood, iets soos ‘n suurdoogbrood met ‘n taai kors, en regte botter. Ja, man! Laai ons prent af op jou rekenaar binne twee minute – kliek hier

‘n Nuwe naam: “Daaglikse Stilte”

Ek het al ‘n tyd gelede begin om die naam “Padlangs” vir ons dagstukkies uit te faseer. Ons beweeg oor na “Daaglikse Stilte”. Dit is meer beskrywend van wat ons doen en sal ‘n wyer mark tref. Ons het reeds ‘n Facebook-blad daarvoor oopgemaak en sal dit ook andersins bekend maak. Ons bestaande platforms bly net soos dit is en “Padlangs” bly die naam van ons bediening. Mettertyd sal "Daaglikse Stilte" net die dagstukkies wys, terwyl ons bestaande FB blad 'n meer gemengde inhoud (o.a. dagstukkies) sal hê.

In kort…

  • Ons oordenkings is steeds “Volg My” en ons doen tans die tema van ons identiteit. Ons sal nou eers vir 'n tyd stilstaan by "my verhouding tot myself" (met temas soos “identiteit”, “balans”, “siel” en “self”). Vir ‘n opsomming van die hele program kliek hier.
  • Onthou, jy kan ook na ons dagstukkies luister, elke dag via WhatsApp (kliek hier) of dit in Engels ontvang (kliek hier).
  • Ons huidige “vlagskipkursus”, "IN PRAKTYK", behandel tans temas soos ons getuienis, wêreldse gewoontes, verslawings, ens. Dit gaan mos oor hoe ons die praktiese lewe as kinders van God leef. Vir meer inligting, kliek hier.

 Ten slotte, altyd weer: ‘n GROOT dankie aan elke vriend en vennoot, dagstuk-ontvanger en  kursusganger, bydraer en bidder, briefskrywer, navraer of gebedsversoeker. Om met jou die geestelike pad te mag saamstap is so 'n voorreg!

Mag die Here jou ryklik seën. Beste wense!

Jimi en Maryke

Bid asb. saam met ons:

  • Bid asseblief altyd vir Padlangs Bediening. Ons bly 100% afhanklik van die Here vir elke behoefte. Ons bid altyd vir sy wil, sy seën, vir groei, oop deure, nuwe platforms en groter grondgebied.
  • Bid asb. ook vir ons persoonlik: gesondheid en voorsiening: ek moet bv. binnekort my laptop vervang (draad en duct tape hou hom nou letterlik bymekaar) en benodig een wat nogal hard kan werk. Het tans 'n i3.
  • Ons bid ook graag saam met jou. Kontak ons gerus.
 

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –