Forum 2.0

Maandelikse Nuus Mei 2018

 

Hallo vriend!

Dis verkeerd dat die somer en die winter die twee "groot" seisoene is, met die herfs en die lente as die "tussenin" seisoene, die blote oorgange. Die welkome verandering wat die herfs en lente bring, hulle pragtige kleure en matige temperature, maak húlle eintlik die "groot" seisoene!

Die geestelike betekenis van herfs is dat ons nie nét kan werk en net kan oes nie. Daar kom 'n punt dat die vrugdra ophou, dat die oes oor is. Iewers moet ons die werk neersit en huis toe gaan. Alles is ook nie net altyd lig en vrolik nie. Geleidelik kom daar 'n koelheid in die lug, word die dae korter en die nagte langer. Dit is ook deel van die lewe! In die stil seisoene en die donkerder dae, as EK nie meer kan werk nie, moet ek meer staatmaak op HOM. Herfs leer ons geloof en vertroue, leer ons oorgawe, leer ons wag-vir-God, rus in sy genade. Herfs herinner ons dat geestelike groei veral in oorgawe lê, in laat-gaan, loslating - release - soos die blare wat van 'n boom val. Geestelike groei is immers die loslaat van jou eie beheptheid, jou ekkigheid, van jou gewaande beheer, van jou vasklou aan dit wat geen blywende waarde het - ja, van jou lewe self. Geestelike groei eindig waar HY alles is! Mag jou Herfs mooi wees. Gooi nou maar die dooie dinge in jou lewe af!

Dis tans Pinkster - ook 'n tyd waarop ons wag op die Gees om in ons te werk. Wag op die Here - ja, wag!

Dagstukkies

Ons huidige reeks dagstukkies is 'n dissipelskap-program, soos jy weet. Dis gebaseer op ons "basiese" kursus, GEESTELIKE VORMING, wat al deur honderde van ons vennote geneem is. As jy meer wil lees oor hierdie kursus, watter temas gedek word en waarom dit anders is as ander dissipelskapkursusse, kliek hier. Jy kan daar ook die eerste dele gratis aflaai. Kry jy nie ons gratis dagstukkies nie? Kliek hier. Ons oordenkings is ook in Engels beskikbaar: kliek hier.

Kursus

Ons "vlagskip"-kursus, wat tans deur meer as 'n honderd mense ontvang word, is IN PRAKTYK. Ons vra onsself hoe leef 'n Christen as 'n kind van God in die wêreld, weg van die kerk en die kleingroep en die geestelike vriende? Hoe ry hy in die verkeer, tree hy op by die werk, baklei hy met sy vrou (ja, sowaar) - ja, hoe eet en drink en slaap en praat ons? Elke week bespreek ons 'n tema in detail. Ons gee die Skrif-agtergrond en allerhande praktiese wenke. Vir meer inligting kliek hier. Jy kan ook enige tyd inskryf!

Dis genoeg vir vandag. DANKIE dat ons die lewe - en die geestelike lewe - saam met jou mag stap. Wat 'n voorreg!

Beste wense, baie seën!

Jimi en Maryke

Bid asb. saam met ons:

  • Bid asseblief altyd vir Padlangs Bediening. Ons bly 100% afhanklik van die Here vir elke behoefte. Hy is so getrou!
  • Prys die Here vir ons nuwe boek wat tans voorberei word en 'n verdere manuskrip wat reeds aanvaar is. Wat 'n voorreg!
  • Bid maar steeds vir die droogte. Hier in die Kaap lyk die winter op dié stadium nog nie goed nie, maar ons wag geduldig. Persoonlik raak ek moeg om op die manier te leef, want die moderne lewe vereis meer water. Die wasmasjien neem ons al tot by die limiet, baie wasgoed en skoonmaakwerk bly lê, bouwerk word uitgestel, ens. Die tuin het al groot skade gely. Ons benodig uitkoms - en 'n stadsraad wat meer water verskaf!
  • Prys die Here vir die feit dat ons kinders drie maande uitmekaar kon trou! Jacques (met Shirné) is getroud in Desember 2017 en Andrea (met Pieter-Paul) nou in April. Wat 'n besige tyd! Ons voel egter besonder tevrede en ge-bless.
  • Ons bid ook graag saam met jou. Kontak ons gerus!
 

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –