Forum 2.0

Maandelikse Nuus November 2017

Hallo vriend!
Ek is mal oor November. Dalk is dit omdat ek dit as 'n underdog-maand beskou, en ek vat mos graag die part van die underdog. Oktober en Desember kry altyd die aandag, maar November is so 'n wegsteek-maand. Ek noem haar die "ander sussie" - die een wat nie so glamorous is nie. Nogtans moet mens bietjie mooier na November kyk - dis koeler as die hittige Desember en daar's minder van die frenetiese gejaag en sinnelose gepartytjie wat Desember kenmerk. Daar's egter meer opwinding en afwagting as wat Oktober het - die winkels is vol kersversierings en ons dink al aan watter koekies ons vir Kersfees gaan bak! Ja, gee November 'n tweede kans - dis wat ek sê... In elk geval, jy wil ander dinge gaan doen, so net gou die volgende BELANGRIKE aankondigings:

Wonderlike Kersgeskenk!
Die goeie nuus is dat ons boek "In die Lig van sy Genade" onder die top-10 van CUM se verkope van geestelike boeke is (in Afrikaans, Nr 9; in Engels, Nr 7). Ek het dus groot vrymoedigheid om die boek aan te beveel met meer as net sy "pa" se aanbeveling (elke mens dink mos sy eie goedjies is so wonderlik) -ander vind dit inderdaad ook waardevol. Dis 'n ideale kersgeskenk vir veral vroue en moeders. Storm dus na jou naaste CUM, of bestel op die internet en laat hulle dit in 'n japtrap aflewer, daar's nog genoeg tyd, en maak iemand se hart bly. Ek self hou ongelukkig nie meer voorraad nie - dit gaan oor die posgeld (laat weet my egter as jy 'n hele klompie wil bestel, dan kan ons dalk 'n plan maak).
♦ Om meer te lees oor ons boek, kliek hier
♦ Om by CUM te bestel met jou kredietkaart, kliek hier

Lééf is weer op die rak!
Soos julle weet skryf ek al jare vir Lééf en dit was jammer dat hulle van die rak onttrek is. Soveel mense het geskryf dat hulle Lééf se unieke geestelike en visuele aanslag mis! Alle gedrukte media is onder groot finansiële druk en Lééf is in 'n niche-mark as Afrikaanse Christelike vroue-tydskrif. Hulle bestaan ten volle voort op die internet, maar Christine-hulle het nou weer 'n prag-uitgawe op die rakke, vanaf die 20ste. As die opname goed is, sal daar sekerlik meer gereeld uitgawes verskyn. Kry dus jou uitgawe, dis in elk geval 'n besondere een!
♦ Om Lééf aanlyn te lees, kliek hier
♦ Om ons rubriek in Lééf te lees, kliek hier

Ten slotte net die volgende:
♦ Ek het weer 'n paar geestelike antwoorde op ons webruimte gelaai.Kyk gerus na die temas "Mag ons ook tot Jesus bid?" (kliek hier), en "Hoe vind ek 'n geestelike mentor?" (kliek hier)
♦ Dan noem ek weer dat ons 'n uitstekende debietorder-sisteem het, asook 'n kredietkaart-sisteem(wat enige plek ter wêreld gebruik kan word), as jy iets wil bydra, of 'n kursus by ons bestel.Vir meer inligting, kliek hier.

Dankie vir die saamstap! Dis lekker om die geestelike reis te mag deel.

Dankie vir elke bydrae, briefie en gebed. Mag die Here jou RYKLIK seën!


Jimi en Maryke

Bid asb. saam met ons:

  • Bid asb. saam met ons vir (1) ons bediening, (2) ons inkomste en (3) ons persoonlike behoeftes. In dit alles wil ons meer van SY wil en betrokkenheid beleef, minder van ons eie.
  • Terselfdertyd loof en dank ons die Here vir sy goedheid en getrouheid. Hy voorsien in elke behoefte!
  • Bid ook vir ons land - sjoe, daar's baie gebed (en werk) nodig! Bid ook vir reën, asb.
  • Ons bid ook graag saam met jou... laat weet gerus jou gebedsversoek!  

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –