Forum 2.0

Maandelikse Nuus Okt 2018

 

Die jaar vlieg, né? Wat my bekommer is dat daar oor 'n week of so Kersversierings uitgepak gaan word in AL die winkels en oor presies drie weke gaan ons reeds effe moeg begin raak van die bells se ge-jingle. Ek neem my egter (weereens) voor:

  • Hierdie jaar koop ek alle presente vroeg. Die week voor Kersfees sal ek nie in die winkels gevang word nie! 
  • Hierdie jaar maak ons dit die mooiste Kersfees ooit: ons sal ons familie bymekaar kry, ons sal die huis mooi maak (en al die kerse wat ons besit aansteek), ons sal sing en lees en bid, ons sal uitreik, ons sal die Here sentraal hou.

Ons nuus hierdie maand is die volgende:

Die mooiste skermprent ooit!

Ek weet ek is bietjie dramaties met die mooiste dit en die mooiste dat, maar die skermprent wat ek hier gemaak het is inderdaad een van die mooistes ooit! Dis waar! Kyk gerus hierbo - dis pragtig, nie waar nie? Regte lente-kleure. Laai dit in 'n japtrap af vir jou rekenaarskerm - dit pryk reeds op myne! Kliek hier.

Nog nuus - een na die ander

  • Moenie vergeet van die mooiste boek wat ons ooit gemaak het nie (dis ook die waarheid), HOU VAS AAN DIE HOOP, of in Engels, HOLD ON TO HOPE. Dis dagstukkies deur die hele Psalmbundel - 'n reeks van ons so 'n jaar of wat gelede. CUM het dit pragtig laat bind in mooi kleur, met goudfoelie voor, agter en aan die kant. Dis ook 'n ideale geskenk. Kry dit by CUM, of aanlyn. Meer info is by hierdie skakel.
  • Ons is steeds besig met ons dissipelskapsreeks, VOLG MY, en behandel nou (ons is redelik aan die einde) die basiese dinge wat ons oor God, die mens, Christus, verlossing en geloof moet weet. As jy meer hieroor wil lees (of sommer die hele kursus bestel), kliek hier
  • Ons vlagskip-kursus hierdie jaar, IN PRAKTYK, gaan ook nou na sy einde toe. Onthou, dit gaan oor die praktyk van Christenskap, die gewone lewe wat geestelik geleef word: hoe 'n Christen eet en drink, bestuur, spaar en spandeer, werk en rus, die media gebruik, wêreldse gewoontes moet hanteer, sy huwelik moet hanteer en vele meer. Die Skrif vertel ons al hierdie dinge! As jy ook hierdie kursus wil ontvang kan jy hier kliek(of as jy deur ons vele ander oulike kursusse wil kyk, kliek hier
  • Ons nuwe Facebook-blad, DAAGLIKSE STILTE, het nou omtrent 'n 1000 volgelinge, waaroor ons baie dankbaar is. Like gerus ons blad (https://web.facebook.com/daagliksestilte), dan lees jy dit daagliks dáár. Ons ander blad, JIMI LE ROUX, gaan na 5000 toe. 
  • Onthou, ons oordenkings is ook in Engels beskikbaar (kliek hier), asook in 'n klankformaat op WhatsApp. Dis heerlik om sommer in die motor daarna te luister. Kliek hieras jy dit só wil ontvang.

Ten slotte, iets persoonliks. Dit gaan goed met die Le Rouxs. Ek is steeds vreeslik dankbaar vir die voorreg om op dié manier vir die Here te werk en put baie vreugde en seën daaruit. Ek is hierdie jaar egter vreeslik besig - nog tot einde 2019 - en ek hoop regtig volgende jaar sal beter gaan. Ons is ook in 'n tyd van verandering en afskaal. Ek bid ook vir nuwe fokus vir my bediening. Bid maar asb. saam met ons.

Heel ten slotte: dankie, liewe vriend wat hier lees (ek vermoed gewoonlik min mense lees tot héél onder), vir die voorreg om saam met jou die pad van die Here te stap. Ons waardeer dit opreg. Baie dankie vir elkeen wat ons dagstukkies ontvang, op ons kursusse inskryf, bydraes maak, briefies skryf en vir ons bid. Ons is veral dankbaar vir die vriende wat al die jare al ons hande hoog hou - uiteindelik gaan alles oor verhoudings. Ook deur ons bediening het ons al jarelange vriendskappe opgebou en korrespondeer ons met mense reg oor die wêreld. Laat gerus weet as jy ons materiaal ontvang! Ons hoor graag van mense en antwoord alles, al vat dit 'n dag of drie.

Nou ja - mag die Here jou ryklik seën!

Jimi en Maryke

 
 

 

 

 
 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –