Forum 2.0

 

Eendag was daar 'n krismisboom...

Ons bestaande webwerf was ietwat van 'n kersboom met alles wat beweeg en te kere gaan, met al die kleure van die reënboog en elke blokkie wat met elke ander blokkie wou kompeteer.  Jy wou later net vir die spul hokaai roep...  Ek kom nou op 'n tyd in my lewe dat dinge rustig moet begin raak.  Daar was darem method in the madness, want:

  • die gedagte was om alles so naby as moontlik aan die verbruiker te kry.  'n Ou op die internet wil nie baie klieke kliek nie - ek dink navorsing sê hy kliek so hoogstens drie, dan kliek hy weg.  As hy nie DADELIK kry wat hy soek nie, hou hy verby - daar is immers nog 644 miljoen websites (volgens Google) wat wag...  Dis hoekom ons eers besluit het om alles op een blad te sit;
  • daar was baie grafika, want grafika trek meer aandag as teks - way meer - en daarom was daar 'n video, 'n carousel slider, en al die gekleurde blokkies en dingetjies.  En aandag trek is mos wat mens wil doen as daar 644 miljoen websites is...

Hoekom dan nou peuter?

Ek glo egter dat mens ook jouself kan verloor in so 'n oormag inligting - information overload is die euwel van ons tyd en lei tot stres, anhedonie, wandelende bene en ritme-probleme, o.a. Volgens my gaan 'n persoon na ons webruimte om

  • heel waarskynlik vir Padlangs in te skryf, of alternatiewelik vir By the Way
  • om meer inligting oor ons kursusse te kry, want ons noem dit maar al die tyd - moet ook leef
  • om na spesifieke inligting oor bv. 'n poster-tjie, 'n geestelike vraag of so te soek
  • om oor die algemeen te kyk wat is die saak nou van Padlangs en wie is hierdie Jimi-persoon wat so handsome lyk op sy bewimpelde foto en veel jonger as sy 50 jaar
  • om dadelik te wil 'n donasie maak aan Padlangs, maar ok dis nou wishful thinking...

As ons vanuit die hoofblad 'n duidelike en eenvoudige een-kliek roete na al hierdie dinge verskaf, behoort dit 'n skoner en meer bevredigende ervaring te wees.  Volgens my is die voordele van ons nuwe webruimte soos volg:

  • 'n Skoner en oper look (sien hieronder waarvoor ons gegaan het)
  • Die klem op 'n persoonlike verwelkoming met 'n ou foudie, 'n welkom-paragraaf, en selfs 'n handtekening, om die egtheid van ons bedoelinge te bewys
  • Logiese een-kliek roetes via nie minder nie as drie menu-sisteme - as jy nie by iets uitkom nie, het jy regtig 'n bril nodig, of is aartsdom
  • Die vermoë om nou deur web-analytics te bepaal watter en hoeveel mense gaan waantoe op die webwerf, solat ons kan sien wat is die groot behoefte, ens.  Dit kan jy nie doen as alles op een blad is nie.

Vandaar dus die behoefte om alles oor te doen - en glo my 'n behoefte om "alles oor te doen" tref my maar selde...

Wat en hoekom dan nou?

Wat het ons gedoen in die volle maand waaraan ons aan hierie goete gewerk het?  Wel, baie:

  • Laat ons net eers sê dat ons binne die beperkings van 'n Ning-sosiale netwerk moes bly - ek is nie 'n webdesigner nie, ek is meer 'n peuteraar.  Mens mag net sekere dinge doen. Daar is goetjies wat nou maar daar moet staan, maar hei - ek dink dit lyk mooi.  Kyk by www.ning.com as jy wonder wat gaan aan.
  • Ons het 'n minimalistiese houding ingeslaan en dit skoon en modern gehou: rustige grys en maroen (bietjie rooier as tevore, nou #8a0000) op skoon wit, Helvetica vir die teks en Georgia vir die opskrifte - soos altyd die standaard font wat darem maar altyd net die beste is, volgens my.  Ek staan al jare by Georgia!  Dan het ek so 'n aangename, rustige vaalgeel kleur gebruik vir sekere agtergonde - dit gee variasie sonder om die appelkar om te wil gooi, soos baie kleure deesdae die neiging het. Maroen is een van die kleure waarby ek ook bankvas staan - saam met bottelgroen, koningsblou, pruimpers of mauve, donker oranje, donker teale en ander donker, waardige en ernstige kleure van die postmoderne variasies.  Ek is NIE 'n ou vir pastelletjies of ander ligsinnige kleure nie en primêre kleure is te helder en steeds hoogs uit, volgens my.  Ek staan by maroen - punt.  Minimalisme, minimalisme, minimalisme...  als is opgeruim en netjies gemaak en elke blad is oorgedoen om 'n skoon en aangename ervaring te gee, wel feitlik elke blad...
  • Laat ek eers iets sê wat jou mind sal boggle, om in Ingels te gaan...  Die blaaie op ons webruimte wat JY kan access is op die oomblik (11 Okt 2012) 1891, ja jy het reg gelees! Onthou daar's meer as 1750 dagstukkies op - die "gewone" webruimte is tans 136 blaaie. Dan is daar nog 391 blaaie vir ons alleen - onthou "agter" die menu lê nog 'n hele klomp ou blaaie en goete - nie alles maak dit tot op die menu nie, o nee meneer! Ons het bv. ook ons admin en vennote-pages en dit bring 'n totaal van 2282 blaaie vir ons webruimte, not to be scoffed at thank you very much nee ons speel nie speletjies nie meneer ons kom kan al elf jaar aan!
  • Die hoofblad is nou meer 'n splash screen soos die ouens sê - en ek moet darem iewers my kennis van die woord neerstip, nie waar nie?  Sê splash screen nou 10 keer vinnig agtermekaar - dit knoop jou Afrikaanse tong behoorlik!  Doen jy dit? Nou ja, od pie shplas shcreen ish daar soos gesê 'n foto, solat hulle die dude kan sien - ons werk immers aan verhoudings - en 'n welkomswoord.  Dan die navigasie - sien hieronder - en 'n klein plekkie vir notas, kennisgewings, getuienisse e.d.m. Dit is al en dit is genoeg.  Hulle sê die kuns is om uit te haal tot jy nie meer KAN nie;
  • Ons het die navigasie vergemaklik deur (1) 'n sleeker menu-sisteem bo - en laat ons eerlik sê: hierdie menu is HEELTEMAL oorgewerk en rondgeskuif en verander en baie nuwe blaaie gemaak (dae se werk), (2) die vernaamste drie of vier keuses in die middel van die hoofblad en (3) 'n spiksplinternuwe, reuse "footer" onder op die blad, wat by sommige, vername blaaie daar bly staan, waarop ook al die belangrikste shortcuts is.  Eerlikwaar, iemand MOET kry wat hy soek.  Al die inligting is steeds daar, maar nie boom! alles langs mekaar nie, dis meer intuïtief gerangskik - iemand kan net aanlees en aanlees, as hy nou wil (en daar's nie baie van hulle nie!)
  • Ons het vyf of so "landing pages" gemaak: Padlangs (en By the Way), Kursusse, Jimi en Bydraes.  Dit is versamelblaaie - die eerste kliek gaan daarheen uit die hoofblad en daar is al die verdere info dan saamgevat.  Die landingsblad (ek maak sommer gou die Afrikaanse woord) is sommer 'n meneer van 'n blad, met groter prente, fonts en baie skakels en ja - hulle voel ook sommer baie vernaam en trots!
  • Ons het die blaaie deur ikoon-goetjies met mekaar laat identifiseer, en daarmee bedoel ek dat die blaaie wat met Padlangs-dagstukkies te doen het, het die geel padteken-logo'tjie op, die oor die kursusse die blou weergawe van ons bediening se logo (en die afwisselkleur daar is ook blou) en die goete wat meer met "Jimi" te doen het, het 'n prent van die man op, asook die maroen-weergawe van ons bediening se logo (regs bo op elke blad) - as ek nou reg onthou.  En so voorts...
  • Ja, ek het toe ook 'n nuwe, opgedateerde foto van myself gekies.  Oor die oue wou te veel mense weet hoekom dan nou die sonbril, wat steek jy weg, ons WIL jou oë sien, e.d.m. (g'n besef van wat is cool en wat nie).  Die foto was ook van 'n paar jaar gelede.  Ek het nou een gekies wat vroeër die jaar op Stellenbosch geneem is, en dit bewimpel met die Photoshop om dit meer greinerig en wat ook al te maak - sien steeds nie kans vir die naakte waarheid nie - en die meeste van die kleur op die agtergrond uitgehaal.  Ek lyk dus steeds na 'n seriously cool dude, maar nou ja, dis darem nou nuwer, en sonder die sonbril, ai jis...  Ek het veral gehou van die swart en wit weergawe en gebruik hom nou vernaamlik - dis net eenvoudig mooier in elke opsig, hoe mens ook al daarna kyk.  Swart en wit het meer atmosfeer, dis net feite.  Op al my platforms (en ons praat nie van hoë skoene nie, nè) sal die nuwe foto nou as profielfoto pryk, hetsy in bietjie kleur of ook nie - weet nog nie.

Ja, dis nou dit - as jy tot hier gelees het, is jy 'n serious Christen en verdien jy voorwaar lof - dankie!  Ons het alles op 'n test site voorberei tot ons seker was (alhoewel op my ouderdom hoe seker kan 'n mens nou van enige-iets wees) en toe alles boom! (ek hou nou van hierdie woord) oorgedra op die lewendige website.  Ons is tans besig om al die skakels te toets - ek dink als is reg, laat weet asb. as iets nie deurskakel nie - en dan moet ons nog die analytics opstel en 'n klomp kleiner takies, waarvan ek nou vergeet het.  Die footer het op 'n stadium nie reg gelyk op Internet Explorer nie (die groot blou e op jou skerm), ons self gebruik Firefox, wat nou maar net in elke opsig beter is, behalwe soms.  Sal kyk wat ons daaraan kan doen - het dit van 'n ander site ge-rip en toe gecustomaaiz. Ek sien wel dit lyk reg op nuwer weergawes van IE (sug van verligting)...

Nou ja, vriend - dit was 'n lekker geselsie - seën jou!

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies are closed for this discussion.