Forum 2.0

Padlangs Nuus Maart 2013

Hallo Padlangs-vriend

Jip, tyd loop net in een rigting en dis vorentoe...  Maartmaand sê vir my as die weer warm en die wind stil is, moet ek hier uitdwarrel see toe...  sulke dae kom nie elke dag nie (ja, selfs vir vandag is 'n bietjie reën voorspel) en binne weke raak dit te koel vir strandlê, om van die ysige see nie te praat nie.  Ek gaan swem vinnig en lê net so 'n halfuur in die son - wil nie brand nie, en het nie te veel tyd nie, maar my kans moet ek gebruik...  Ek kan nie help as jy nou jaloers is nie :-)

 

Padlangs vir 'n Vriend...

Ons huidige reeks dagstukkies oor die wysheidsboeke van die Bybel is nogal populêr, trouens ons het 'n honderd nuwe lesers bygekry. Onthou jy kan enige tyd 'n dagstukkie aanstuur, maar wees tog wys. As jy dit aanstuur waar dit nie welkom is nie, mag daardie persoon dalk unsubscribe druk onderaan die oordenking, en dan is dit JY wat afgeteken is!  As jy nie seker is nie, kan jy eerder die FORWARD TO A FRIEND-skakel gebruik onderaan elke dagstukkie.  Of skryf 'n briefie by...  Jy kan ongelukkig nie iemand anders inteken nie, elkeen moet self confirm of sy dit wil hê of nie.  Oor die algemeen prys ons die Here vir groei - dis immers waarvoor ons bid!  Dankie dat jy ons bediening op die manier help.

 

Doer in Afrika, Kittie...

Ons gaan voort om maandeliks 'n Padlangs-lid in die verte bekend te stel...  Ek kry laas Desember 'n briefie uit die bos - Gideo Basson skryf uit sy tent uit, by die Zambezi, dat hy nou sy Padlangs gelees het, so vroeg-vroeg in die oggend en dat die dag so pragtig breek.  Sulke dinge... Die grootste jaloesie pak my toe beet - terwyl ek my tyd hier in die huis en dorp rond (en die strand darem, soms) deurbring, is daar mense op ekspedisie... hierdie jaar gaan hulle sommer oral in Afrika rondtoer. In elk geval - KLIEK HIER om Gideo daar op die Zambezi te sien en daardie mooi sonsondergange... jy sal ook jaloers wees! As jy ver in die wêreld is, Kittie, laat my weet - sal jou ook graag wil bekendstel aan die ou huishenne, soos ek.  Vertel ons waar Padlangs oral aanland.

 

Ten slotte (al weer klaar!)

Sien jy, ek probeer regtig die nuusbriewe kort hou...  net nog die volgende brokkies:

  • Ek het 'n navraag gekry en toe die VYF OORDENKINGS oor HOE OM KERSFEES te vier (Desember laas jaar, onthou) nou op een blad en in een pdf-dokument saamgevat.  As jy dit almal bymekaar wou hê, kan jy dit hier aflaai.
  • Ek het iemand geantwoord in ons Geestelike Vrae en Antwoorde-forum oor haar vraag of mens regtig kan sê almal wat getroud is, deur God saamgevoeg is.  My antwoord is hier.

Vriende, dis byna Paasfees.  Die skadu van die kruis word al groter oor ons.  Ons moet besef wat God in Christus vir ons gedoen het.  In die verlede was Paasnaweek maar die groot wegbreek-langnaweek: dam toe, see toe, bosveld toe...  die kruis ver van ons gedagtes.  Nogtans wil ek jou uitdaag om hierdie Paasnaweek anders te vier. Maak dit 'n besondere tyd met die Here.  Tradisioneel is Christene nou aan die vas - op 'n manier.  Ween saam op Goeie Vrydag en juig saam op Opstandingsondag!  Geseënde Paastyd!

 

Beste wense, vriend!

Jimi en Maryke

 

Gebedsversoeke

  • Bid asb. steeds vir ons.  Ons deel steeds hierdie jaar met allerhande uitdagings, persoonlik en met kinders wat studeer, maar beleef te midde daarvan ook groot guns en genade. 
  • Padlangs se spesifieke behoeftes is verdere groei in lesersgetalle, oplossings vir ons tegniese probleme, groei en uitbreiding wat ons kursusse betref en die algemene groei in my (Jimi) bediening.  Veral wil ons in die Here se wil bly en nie sommer enige-iets doen nie.
  • Prys die Here:  Ons prys die Here dat Jacques nou onlangs sy graad kon kry, maar hy moet natuurlik nog 'n jaar doen.  Prys die Here ook vir 'n mooi ding wat hierdie jaar gebeur het - waaroor ons later sal berig - nog besig met die reëlings.

 

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Replies are closed for this discussion.