Forum 2.0

Padlangs Nuus November 2016


Outydse woorde #11: gepleng - gestort, vergiet. Daar was 'n Hallelujalied met die woorde "die Heiland het sy bloed gepleng" (maar ek kry dit nie nou nie). Die woord was eintlik nie so raar nie, dit het elke nou en dan opgekom. Die woorde van geestelike liedere was vroeër mos meer verhewe en argaïes - met die Hollands wat nog so deurslaan.
 
Dit gaan nog goed met die Le Rouxs op hulle sendingtog die elektroniese ruimte in. Hierdie jaar
beleef ons mos nou die eerste keer die "leë nes" - die kinders woon nou elders. Soos regte ou mense praat ons nou dikwels met mekaar oor ons kinders, wat nou met hulle gebeur, wat nou moet gebeur, hoe verantwoordelik hulle darem maar is, die foto's wat hulle vir ons gestuur het - haha, ek kry skoon skaam...  Aan die ander kant geniet ons dit om deur al die fases te gaan, dis asof dit so hóórt. Met ons bediening gaan dit ook goed, alhoewel ons mos maar ALTYD bid vir MEER: groei, uitbreiding, geleenthede, oop deure, sulke dinge. Bid asb. saam met ons. Ons doen wat ons kan, maar sekere dinge kan net God doen.
 
Altyd dieselfde probleem
Ons het die laaste tyd weer baie gesukkel met spam-filters wat ons pos blokkeer. Elke dag is daar
diegene wat nie meer hul dagstukkies kry nie, waarvan sommige dit nooit weer kan kry nie, want hulle adresse is permanent van die lys afgehaal
- dit gebeur outomaties. Mense dink soms ons het opgehou met ons oordenkings, maar in werklikheid word dit (en moontlik ons antwoord aan jou as jy dit rapporteer!) geblokkeer. As dit met jou gebeur, laat asb. dadelik (weer) vir ons weet - ons het maniere om jou te help. Doen ook asseblief die volgende om te verhoed dat dit gebeur:
1) reply op 'n dagstukkie (al is dit 'n leë briefie)
2) sit ons kontakbesonderhede (padlangs@jimileroux.co.za en padlangs@telkomsa.net) in jou
e-pos program se kontaklys
3) maak 'n dagstukkie oop en stel dit dan as Safe Sender (in jou Junk Mail Options)
Dit sal die spam-filter wys dat jy die pos WIL ontvang en dat dit veilig is.
 
'n Lekker kamp?
Dit is die tyd van die jaar dat kerkrade beplan vir volgende jaar se program. Onthou dat ek naweekkampe aanbied wat op ons
kursusse gebaseer is: mannekampe, leierskampe of huwelikskampe.
Lus vir so iets volgende jaar? Meld dit aan jou bedieningsleier of leraar. Ek kan jou die programme en kostes stuur.
 
Maak dit jou stiltetyd
Kan ek net bevestig dat ons OORTUIG is van die waarde van 'n goeie daaglikse oordenking vir vandag se besige lewe. Alhoewel dit kort is (en kragtig, hopelik), verskaf dit 'n egte verpakte stiltetyd: dis egte lees-en-bid, egte geestelike groei met 'n egte toepassing in die praktyk. Ons werk stelselmatig deur die Woord (nie net die "lekker dele" nie) en wil vaste spyse verskaf, nie net suikerpille nie. Benader dit ernstig en maak
dit jou daaglikse stiltetyd!
 Jy kan jou Bybel daarby gebruik. Natuurlik is dit nie die "ideale" stiltetyd nie, maar baie min mense kom werklik by so 'n ideaal uit. Ons bly ook dankbaar dat jy ons dagstukkies aanstuur (waar dit welkom is, hoor - nie mense
spam nie), wat ons bediening moet steeds groei.
 
Dis dan genoeg vir jou - soos altyd 'n GROOT DANKIE vir jou saamstap, jou inset, jou ondersteuning in elke opsig. Dit word SO waardeer!
Die Here se seën! 
 
Jimi en Maryke
Bid asseblief saam met ons:
  • Prys die Here saam met ons vir elke dagstuk wat afgelewer word, elke briefie wat terug ontvang word, elke gebed wat ons vir ander mag doen, elke saamgesels oor moeilike vrae, elke saamstap deur ons begeleiding en kursusse op die geestelike pad. So ook vir elke bedrag wat liefdevol en sensitief inbetaal word - dankie Here! Ons LEEF hierdie bediening en dis 'n voorreg!
  • Bid asseblief vir groei in ons bediening, vir oop deure, nuwe platforms, groter grondgebied. Ons wil in die minste getrou wees, Here - vertrou ons met meer...
  • Bid ook vir ons persoonlik - ons het maar dieselfde uitdagings as almal.
  • Skryf gerus ook met JOU versoek - ons luister vertroulik mee en bid graag saam.
     



You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –