Forum 2.0

3980 Net een les

17 Hulle het geweier om te luister; hulle het nie u wonderdade onthou wat U aan hulle gedoen het nie. Hulle het hulle nekke styf gemaak en was vasbeslote om terug te keer na hulle slawerny in Egipte. Maar U is 'n God wat vergewe, U is genadig en barmhartig, geduldig, vol troue liefde; U het hulle nie verlaat nie. Neh. 9:17 BDV

In hierdie hoofstuk tree Nehemia in vir sy volk. Hy bely hulle sonde lank en ernstig. Dan sê hy, in hierdie vers, dat God genadig en barmhartig is, geduldig, “goedertieren”. Hy noem Hom Elohe Selichot, “God van vergiffenis”. Hý, daardie God, het hulle nog altyd gedra, in die woestyn gevoed, hulle beskerm, hulle in die Beloofde Land ingelei. Hulle was weer ongehoorsaam en is gestraf, maar nou, met hulle terugkeer uit ballingskap, hernu hulle hul verbond met Hom. Plegtig teken hulle hul name en vier dan die Huttefees met groot vreugde – sewe dae lank!

Hierdie geskiedenis het vir ons net één les: God het Hom getrou bewys, ook aan ons. Hy het ons deurgedra, versorg, beskerm en gelei. Hy het ons ontrouheid telkens vergewe. Dalk is jy op die oomblik geestelik nie waar jy moet wees nie. Dan moet jy vandag hoor dat Elohe Selichot op jou wag. Kom, hernu jou verhouding, jou verbond. Bely en ontvang vergiffenis. Hervat jou verhouding met Hom met groot vreugde!

Genadige God, dankie dat U altyd getrou is, altyd vergewensgesind, altyd liefdevol. Dankie dat ek vandag weer na U kan kom. Vergewe my waar ek weer gedwaal het. Herstel ons verhouding, want sonder U wil ek nie leef nie. Amen.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Om blokkering te verhoed stel asb. hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, NAAM BO ALLE NAME, te lees, kliek hier

© 2019 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –