Forum 2.0

3983 Vrae, vrae, vrae

2 U is immers die God by wie ek toevlug soek. Waarom verwerp U my dan; waarom moet ek rouklere dra omdat die vyand my verdruk? Psalm 43:2 BDV 


In Psalm 42 en 43, wat eintlik een psalm is, beskryf die psalmis die pyn van verwerping. Sy vyande het hom uit Jerusalem gedryf. Hy verlang om terug te keer, om sy God weer in die tempel te aanbid. Nou voel hy egter verlate, worstelend met tientalle vrae: “Waar is Elohe Mauzi, die ‘God van my toevlug’?” “Waarom het Hy my verwerp?” “Waarom moet my vyande oorwin en ék die onderspit delf?” 


Ons worstel dikwels met presies dieselfde vrae: “Waar is U, Here, as U dan my toevlug is?” “Waarom gaan dit sleg met my?” “Waarom is dinge onregverdig?” Ongelukkig gee die Bybel nie maklike antwoorde op sulke vrae nie. As ons self probeer, maak ons dikwels foute, of praat vermetel. Wat die Bybel wel bevestig is dat God, God is. Hy doen wat Hy wil, maar Hy kan daarvoor vertrou word. Ja, die Here vra nie dat ons sal verstaan of verklaar nie, Hy vra dat ons sal vertrou! Onthou: selfs in jou onbegrip bly God jou toevlug! 


God-van-my-toevlug, dankie dat U altyd by my is, in die goeie en slegte tye. Dankie dat U ‘n wonderlike toevlug is, juis as ek nie verstaan nie! Help my om U volkome te vertrou. Amen. 


Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.
Om blokkering te verhoed stel asb. hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.
Om meer oor ons huidige reeks, NAAM BO ALLE NAME, te lees, kliek hier
© 2019 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –