Forum 2.0

3995 Die neerskryf van die Naam

1 God het met Moses gepraat en vir hom gesê: "Ek is die HERE. 2 Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Ontsagwekkende, maar met my Naam 'HERE' het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. Eks 6:1-2 BDV

Die eienaam van God, Jahweh, bly steeds in misterie gehul! Om te verhoed dat die heilige Naam uitgespreek word, het Jode later die vokale van Adonai (“Here”), met ander woorde a-o-a, by die konsonante van J-H-W-H gevoeg om die kunsmatige naam, JaHoWaH, te vorm. Om te verhoed dat selfs net “Jah” gesê word – die kort vorm vir Jahweh – is dit na Jehowah verander – ‘n vorm wat vandag steeds gebruik word. In die Dooie See-rolle, wat antieke Skrifgedeeltes bevat, vind ons dat hierdie Naam soms nie in gewone Hebreeuse letters geskryf word nie, maar in die karakters van Oer-Hebreeus: vreemde, antieke letters. Selfs in ons eie Bybels word die Naam nooit gedruk nie! Waar Jahweh in die teks voorkom, word dit vervang met “HERE” (met hoofletters) of “Here”. As daar dus “HERE” staan in jou Bybel, of “HERE Here”, sê die teks daar Jahweh, of Jahweh Adonai.

Hoe geheimenisvol is God se Naam nie! Wees egter getroos: die geheimenisvolle God is óns God, óns Vader. Die geheimenisvolle God het ons lief!

Geheimenisvolle God, dankie dat U groot en goed is. Dankie vir u genade en goedertierenheid. Dankie, bowenal, dat U mý God en Vader is – dat U mý liefhet. Amen.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkingskliek hier.
Om blokkering te verhoed stel asb. hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.
Om meer oor ons huidige reeks, NAAM BO ALLE NAME, te lees, kliek hier
© 2019 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –