Forum 2.0

4085 My porsie is U

25 Wie is daar vir my in die hemel? As ek by U is, begeer ek niks op aarde nie. 26 My liggaam en my hart kan maar wegkwyn, God is die rots van my hart en my erfdeel vir altyd. Psalm 73: 25-26 BDV

‘n Pragtige beskrywing van God in die Bybel is dat Hy ons “deel” (of porsie) is, ons “erfdeel”. Wat beteken dit? Die stamme van Israel het elk ‘n erfdeel ontvang, ‘n grondgebied. Een stam, Levi, het egter geen eie grondgebied gekry nie. Hulle porsie was die Here! Hulle moes die tempeldiens behartig en hulle instudeer in die dinge van die Here, sodat hulle die volk oor Hom kon leer. Die elf stamme het elk ‘n tiende afgestaan sodat hulle voltyds daarmee besig kon wees. Die Leviet Asaf, wat hier skryf, besef dat hy ouer word en dat hy nie geld en goed het nie, maar troos hom daaraan dat die Here sy porsie en besitting is. Hoe mooi!

In die nuwe verbond is God se kinders almal “konings en priesters”, ‘n “priesterlike volk”. Die Here is jou porsie, jou erfdeel! Weet jy wat? Jy “erf” die Here reeds hier, in ‘n sin, maar o, die erfenis wat nog wag! Eendag erf jy die Here in sy volheid!

Wonderlike Here, “As ek by U is, begeer ek niks op aarde nie.” U is inderdaad my rots en my redding, my porsie, my erfenis vir ewig – dankie daarvoor! Amen.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Om blokkering te verhoed stel asb. hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, NAAM BO ALLE NAME, te lees, kliek hier

© 2019 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

1585512135?profile=RESIZE_710x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –