4/1568 Lukas 1:34 Vra maar jou vrae

Maar Maria sê vir die engel: Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?” Maria het so pas by ‘n engel gehoor dat die Messias deur haar gebore sou word, dat Hy die goddelike Koning sal wees wat verwag is, die Seun van God, dat Hy vir ewig sal heers, ens. ‘n Asembenewende boodskap! Heeltemal prakties stuit haar gedagtes by die heel eerste probleem. Dis asof sy haar hand opsteek en sê: “Wag! Wag ‘n bietjie! Ek KAN NIE ‘n seun kry nie, want ek voldoen nie aan die eerste vereiste nie, nl. ‘n seksuele verhouding met ‘n man. Hallo! Ek is nie getroud nie. Ek is ‘n maagd!” Dit is natuurlik verbasend dat Maria hoegenaamd terugpraat, nie waar nie? Nogal moedig, maar dis asof sy nie verstaan nie. Hoor sy reg? Wat gaan presies gebeur? Moet sy haar troue met Josef vervroeg? Gaan sy ‘n “ongehude moeder” word (‘n baie, baie groot skande in hulle tyd)? Twyfel Maria dalk? Miskien, maar wat ek daaruit leer is dat mens maar met God mag “terug”-praat – dat jy maar kan vra wat jy nie verstaan nie. Ja. Jy kan praat en vrae vra en ook kla en redeneer en worstel en stoei. Ja, jy kan. Jy mag. Bly net in die verhouding. Here, ek kan nie alles verstaan nie, maar ek glo U en ek vertrou U. Amen.

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –