4/1572 Lukas 1:42-45 Elisabet se seën

Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! ... Geseënd is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” Die engel het vir Maria gesê dat Elisabet, haar tante, ook swanger is. Dit is ‘n teken dat God alles kan doen – Elisabet was mos eintlik te oud om kinders te kry. Maria het toe dadelik na Elisabet gegaan om haar te vergewis of dit so was. Twyfel sy nog? Dalk. Maar Elisabet kom bevestig God se wil vir haar en moedig haar aan om dit te glo; en sy seën Maria met ‘n mooi, driedubbele seën. Die Jode seën mekaar tot vandag toe met sulke mooi seëninge, veral in die familie. Elisabet wys daarmee weer dat sy na aan die Here leef. Weet jy, daar is (geloofwaardige) kommentators wat glo dat Maria hier deur die Heilige Gees bevrug is. By Elisabet, by wie sy kon glo en aanvaar dat die boodskap inderdaad so is – daar gaan die belofte in vervulling. Daar by Hebron in Juda, waar Dawid sy troon gehad het, waar Abraham, Isak en Jakob begrawe is en volgens legende: Adam en Eva. Wie weet of dit so was? Wat ek wel weet is dat Elisabet Maria in haar geloof help. Kom ons doen dieselfde. Here, ek wil vandag vir iemand ‘n seën wees – wys my waar! Amen.

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –