Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan die wat Hom eer. Ons is nog besig met Maria se lied, bekend as die Magnificat. Dis ‘n sestienjarige meisie se skepping, hoor! Maar watter diepte: die eerste deel van haar komposisie het gegaan oor haar eie geringheid. Die tweede deel, in die verse hierbo, gaan oor God se heiligheid, almag en die groot dinge wat hy doen. Mens kan dit saam so opsom: “Ek is klein, maar God is groot”. En dis die les van vandag. Ek en jy is niks. Ons is behoeftig, afhanklik, arm, naak en blind. Maar dit maak nie saak nie. Dis OK! Want God is groot: Hy is alles en het alles en is almagtig en liefdevol en goed en Hy sorg vir my! Hoef ek dan iets te wees? Nee, ek kan bloot BY Hom wees, en dankbaar leef uit sy ontferming en liefde. Dis iets daarvan wat Maria nou verstaan en wat haar geseënd en gelukkig maak. God gaan sy gang in haar lewe, en sy kan Hom net loof. Vergeet dus van dit waarin jy nie groot is nie. Laat dit los. Wees maar klein! Maar wees by Hom. Here, ek is klein, maar U is groot! Amen.

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –