4/1582 Lukas 4:1 Versoekings is normaal

Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en is deur die Gees na die woestyn gelei. Matteus sê by hierdie gebeurtenis Jesus is deur die Gees die woestyn ingelei om versoek te word – hy beklemtoon m.a.w. die doel. Dit bring ons by die tema van versoekings. Jesus het versoekings geken – sy hele lewe lank, nie net hier in die woestyn nie, hoor. Hy het die gewone versoekings geken wat ons ook ken: alles wat te doen het met selfsug, met eer, met mag, met geld, met seks. Jesus was ‘n mens en Hy was ‘n man. Hy het al die dinge van ‘n man geken. Onthou, versoekings is ‘n normale deel van die lewe. Dit sal altyd daar wees. Dis nie sonde nie. Maar hoe ons daarop reageer is van belang. Versoekings kan lei tot sonde. Daarom is dit wel gevaarlik. In die teenwoordigheid van versoekings word die kans op sonde soveel meer. Jesus leer ons om te bid: “Vader, laat kom ons nie in versoeking nie.” Bly jy ook uit die versoekings uit, as jy geestelik wil groei. Dit help nie jy bid dit, maar gaan dan oop oë die versoekings in nie. Here, help my om van versoekings af weg te bly. Amen.

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –