4/1587 Lukas 4:3-4 Dis net geld

Die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus antwoord hom: “’n Mens leef nie net van brood nie.” Onthou, Jesus se versoekings is ook ons versoekings. Sy eerste versoeking was die materiële dinge: geld en besittings. Daarmee kan jy al jou behoeftes bevredig, glo ons. Ons is ook in ‘n baie sterk versoeking om voor die mag van geld te val – ja, om voor Mammon neer te buig en hom te aanbid met alles wat ons het. Vir baie, baie mense is geld ALLES. Jesus weier die versoeking van materiële dinge. Die res van sy lewe sou Hy nie eintlik iets besit nie. Daar is steeds Christene wat alle besit vir die Here weggegee het, maar dis ‘n besondere roeping. Almal van ons wat die Here wil volg moet egter los wees van geld en goed. Of ons nou baie of min geld het, dit moenie ons geluk of ons betekenis bepaal nie. Die waardes van eenvoud, van deel, van gee, van weggee, van lig reis moet in ons lewe tel. Ons mag nie met ‘n mentaliteit van skaarste aan alles vasklou nie. Ons moet met ‘n mentaliteit van oorvloed leef, met die wete dat God vir ons in alle opsigte ryklik sal voorsien wat ons nodig het. Onthou: dis net geld! Here, maak my los van geld en veral van vrees. Amen.

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –