4192 Soos ‘n koningskind

9 Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. 10 En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul. Kol. 2:9-10 BDV

Christus neem ná sy opstanding ‘n baie hoë posisie in. Hy word die Eersgeborene genoem, die Woord, die Beeld, die Volheid van God. Hy is die “Hoof oor elke heerskappy en mag”, waarmee alle aardse, demoniese en hemelse gesag bedoel word. Christus regeer oor alles en almal. Hy verteenwoordig God volkome. Ja, dít is ons Koning!

Nog meer wonderlik is Paulus se stelling dat ons wat in Christus is, God se volheid deel. Ons het nie net iets van God of selfs baie van God nie, nee: “in Hom is julle met hierdie volheid VERVUL”! Ons kan nie eers begin om te verstaan wat dit beteken nie! Al wat ons weet is dat ons tot ‘n baie hoë roeping geroep is. Ons verteenwoordig God hier op aarde, ons het iets wesenlik van Hom in ons, wat ons werklik met ander kan deel, en ons sal eendag – op ‘n manier – soos Hy wees. Ja, inderdaad! Kan ons dan nog struikel oor elke kleinigheid? Nee, leef eerder soos ‘n koningskind!

Hemelse Vader, ek is nie seker hoe ek u volheid, heiligheid of heerlikheid kan oordra nie, maar U maak op my staat om dit wel te doen! Help my daartoe, deur die krag van die Heilige Gees. Laat ander werklik vir U in my sien! Amen.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, NAAM BO ALLE NAME, te lees, kliek hier

© 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

1627575301?profile=RESIZE_710x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –