4211 Soos ‘n bruid wat wag

"Kom hierheen, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” 10 Hy het my toe deur die Gees na 'n groot en hoë berg geneem en aan my die heilige stad Jerusalem gewys wat van God uit die hemel neergedaal het. Openb. 21:9b-10 BDV

Dis ‘n sterk tema in die Nuwe Testament dat Jesus soos ‘n Bruidegom is. Ons, weer, is soos ‘n bruid wat vir die bruidegom se koms wag en haarself gereed hou. In Openbaring sien Johannes, reg aan die einde, hoe die bruilof van die Lam aanbreek. Dan sien hy hoe die bruid van God lyk: ‘n stad, die Nuwe Jerusalem, vol vreugdevolle mense wat ewig in God se teenwoordigheid leef.

Wat verwag ‘n bruidegom van sy bruid? Hy verwag natuurlik dat sy aan hom getrou sal bly. Hoe anders? Jesus moet dus duidelik die meester van ons harte bly, sonder huiwering of halfhartigheid. Hy verwag ook dat sy bruid op haar beste sal wil lyk. Net so wil ons ook ons Geliefde behaag deur sonde uit ons lewe te hou. Die dinge wat die Gees vir ons uitwys moet nou oorkom word! Ja, wat verwag ons Bruidegom? Hy verwag sy bruid se allesomvattende liefde, haar volle oorgawe, haar hartstog net vir Hom! Gee jou volle hart vir Jesus!

Hemelse Bruidegom, ek het U lief en wag op u koms. Ek sien daarna uit met verlange! Terwyl ek op U wag wil ek rein bly, gereed bly, besig bly met die opdragte wat U my gegee het. Ek wil U nie teleurstel nie; ek wil U trots maak! Amen.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, NAAM BO ALLE NAME, te lees, kliek hier

© 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

1627575301?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –