4229 Grond en Gees

4 Die Gees van God het my gemaak; die asem van die Almagtige hou my lewend. 6 Kyk, voor God is ek net soos jy; ook ek is van klei afgeknyp. Job 33:4,6 BDV

Elihu lewer ook kommentaar op Job se nood. Hy sê dat hulle maar mense is, dat die Ruach El hulle gemaak het, dat slegs die asem van Shaddai hulle in die lewe hou. God het ‘n stuk klei afgeknyp en hulle daarvan gevorm. Hoe mooi! Dis die woorde van Genesis, waar God die mens uit stof maak en dan sy eie asem in hom blaas. Ons bestaan uit grond en Gees!

Job se vriende was egter verkeerd, ook Elihu, in die sin dat hulle gedink het hulle kon God se aksies sommer so verklaar. Hulle vroom verduidelikings van hoe God is, was uiteindelik vermetel. God doen wat Hy wil, want Hy is GOD! Hierdie waarheid moet jou egter nie moedeloos maak nie. God verantwoord Hom aan niemand nie, ook nie aan jou nie, maar Hy bly ‘n goeie God. Dit was liefderyke hande wat jou uit klei gevorm het. Die Pottebakker het goeie werk gedoen! Hy vra vandag nie dat jy Hom verstaan nie, maar dat jy Hom vertrou.

Hemelse Pottebakker, dankie dat U my mooi gemaak het. Dankie dat U ‘n goeie God is, met goeie bedoelings, met “gedagtes van heil” oor my. Dankie dat ek U kan vertrou. Ek vertrou U! In Jesus’ Naam, amen.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, NAAM BO ALLE NAME, te lees, kliek hier

© 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

1627575301?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –