4268 So ‘n skat

14 As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op julle rus. 1 Pet. 4:14 BDV

Die wêreld sal nie altyd gelukkig wees met ons lewenswyse of geloof nie. Ons sal soms vermy of afgewys word, of selfs belediging of vervolging moet verduur. Petrus praat hier Jesus-taal as hy sê dat die wat sulke dinge deurmaak “geseënd” is. Onthou, Jesus het self verklaar dat dit ‘n ware seën is om te treur, om behoeftig en afhanklik te wees, of om vervolg te word. Dan is God juis naby, ekstra liefdevol. Dán beleef ons Hom die beste! Nee, die wêreld kan sulke denke nie verstaan nie.

As jy dus uitgesluit of afgejak voel omdat jy die Here dien, vra jouself wat jy eerder wil hê: die eer van mense of die eer van God? Wees dan eerder bly dat die “Gees van Heerlikheid” in jou is, met ander woorde God in sy glorie, in sy majesteit, sy skoonheid. Sal jy so ‘n skat verruil vir ‘n mens se goedkeuring? Nooit nie! Glimlag maar, seën, bewys liefde. Jy het meer in jou as iemand wat in die wêreld is.

Hemelse God, dankie dat U, deur u Gees, in my woon. Dankie dat ek gevul is met u heerlikheid en grootheid. Skyn deur my met u glans, laat elkeen U sien! Help my om altyd liefdevol te bly, al reageer sommige negatief. In Jesus’ Naam. Amen.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, NAAM BO ALLE NAME, te lees, kliek hier

© 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

1627575301?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –