4311 Hemelse brood

3 Toe het die versoeker nader gekom en vir Hom gesê: "As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode moet word." 4 Maar Hy antwoord: "Daar staan geskryf, 'Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.'" Mat.4:3-4 BDV

Hier is Jesus in die woestyn, vastend. Hy is moeg, warm en honger. Dan moet Hy die duiwel ook nog afweer. Die vyand kom as ons op ons swakste is, nie waar nie? In elk geval, as die duiwel Hom wil versoek om van sy vas af te sien, sê Jesus hierdie woorde. Hemelse brood is belangriker as aardse brood. Jesus sou nog baie eet en drink, maar nóú wou Hy God se woorde hoor. Dis belangriker.

Ons beleef dit dieselfde! Ons hoor soveel stemme deur ons dag: van ander mense, die media, ons eie gedagtes... Dis egter belangrik om God se stem in dit alles te hoor. Sy stem is in sy Woord, wat jou sal voed en versterk en in sy wil lei. Natuurlik wil die vyand jou versoek om die Woord na te laat! Natuurlik sal hy jou fisieke behoeftes uitwys, jou haastige lewe in die wêreld. Natuurlik wil hy hê dat God se stem in jou sal stil raak. Doen soos Jesus gedoen het: sê NEE!

Hemelse Here, help my om gereeld by u Woord uit te kom, om dit dikwels te neem, te eet, om gevoed en versadig te word. My lewe is inderdaad baie besig, maar help my om iewers tyd te maak, iewers ‘n plekkie te vind vir u Woord. Ek het dit so nodig! Amen.

BEDINK VANDAG: My honger is na u Woord!

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, WESENLIKE WOORD, te lees, kliek hier

© 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

7998943877?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –