4316 Skakel in op die ritme

2 God was op die sewende dag klaar met sy werk wat Hy gedoen het; en Hy het op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gedoen het. Gen. 2:2 BDV

God skep alles in ses skeppingsdae en rus dan op die sewende dag. Natuurlik word God nie moeg nie en het Hy nie fisieke rus nodig nie. Waarom “rus” God dan? God wil daarmee ‘n sabbatsritme in die skepping inbou. As (nie-Joodse) Christene vier ons nie die Joodse Sabbat nie (‘n besluit wat reeds in die Nuwe Testament geneem is), maar ons verstaan dat daar wel ‘n sabbatsritme bestaan – tot ons voordeel!

Skakel in op die goddelike ritme! Hou ‘n persoonlike sabbat, bv. op ‘n Sondag. Staak jou werk, en bely daardeur dat werk nie jou voorsiening is nie, maar God. Vertraag jou pas, doen rustige dinge. Fokus op jou herstel en opbou – laat jou re-creation God se creation in stand hou. Fokus ook op God en sý dinge. Vir ons gaan dit nie meer oor ‘n wetsverpligting nie, maar oor ‘n geestelike dissipline: ‘n ruimte wat ons in ons lewe skep om God te beleef. As jy vir Hom ruimte skep, sal jy Hom daar vind!

Hemelse Vader, dankie vir die voorreg om met U te leef. Help my om een keer ‘n week te stop en te rus. Help my om ‘n sabbat in my lewe te ontwikkel, ‘n plek waar ek U kan vind. In Jesus’ Naam, amen.

BEDINK VANDAG: Ek leef in God se ritme, ‘n sabbatsritme.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, WESENLIKE WOORD, te lees, kliek hier

© 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

8023687087?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –