4323 Die vloek en die seën

Omdat jy geluister het na jou vrou se stem, en geëet het van die boom waarvan Ek jou beveel het, "Jy mag nie daarvan eet nie!", is die grond deur jou toedoen vervloek. Met swaarkry sal jy daarvan eet, solank jy leef. 19 Met sweet aan jou gesig sal jy brood eet, totdat jy terugkeer na die grond; want daaruit is jy geneem - ja, stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer." Gen 3:17b, 19 BDV

God spel die gevolge van die mens se sonde uit. Die vrou se verhoudings word aangetas: met pyn sal sy kinders kry, terwyl haar man oor haar sal heers. Die man se werk word getref: slegs met moeite sal hy ‘n bestaan kan maak. Ons ken hierdie “vloek van die sonde” steeds te goed! Ons verhoudings is steeds moeilik; ons werk steeds “in die sweet van ons aangesig”. Ons leef met die pyn, verlies en dood wat die sonde gebring het. Ongelukkig sal dit só wees tot die Here weer kom.

Gelukkig is daar egter ook ‘n ander kant! Gelukkig word die méns nie vervloek nie, net die aarde. Gelukkig het ons steeds God se oer-seën oor ons, het Hy ons steeds lief! Gelukkig het Christus die vloek van die sonde op Hóm geneem en kan ons in ‘n vervloekte wêreld as geliefdes leef, as geseëndes. Gelukkig gaan God eendag ook die aarde nuut maak. Beleef jy die sonde-vloek erg? Kom na die Here toe – die seën is by Hom!

Getroue God, ek is jammer vir die sonde in die wêreld en vir die sonde wat nog in my lewe oorgebly het. Dankie egter dat ek in Christus vergewe is en ‘n nuwe lewe kan leef, vol van u seën! Help my om as u kind in hierdie wêreld te leef, as ‘n geliefde, ‘n geseënde, ‘n oorwinnaar. Amen.

BEDINK VANDAG: In Christus word die vloek ‘n seën.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, WESENLIKE WOORD, te lees, kliek hier

© 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

8054940897?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –