4327 In verbond met El Shaddai

1 Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: "Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik! 2 Ek wil my verbond tussen my en jou bekragtig en jou buitengewoon laat vermeerder." Gen.17:1-2 BDV

Hier lees ons van die verbond – ‘n formele ooreenkoms – wat God met Abram sluit. God stel Homself bekend as El Shaddai – die “Almagtige God”, wat magtige dinge met Abram sou laat gebeur. Van Abram vra Hy twee dinge:

  • “Wandel voor my” – Abram moes sy lewe “voor God se aangesig” leef, met ander woorde bewus van God se blik op hom. Dit verander ons gedrag! Dit help ons om die verkeerde te oorkom, maar dit troos ons ook om te weet dat God se blik een van liefde is, nie woede nie.
  • “Wees opreg” – die woord hier beteken kompleet, suiwer, onberispelik. Dis wat Jesus ‘n “rein hart” noem: oop, eerlik en opreg teenoor God, en volkome toegewyd daaraan om Hom te behaag.

Hoe mooi! 

Die les vir ons is dit: ek en jy word ook uitgenooi om in ‘n persoonlike verbond met El Shaddai te tree! Ja, maak jou verhouding met die Almagtige vas. Leef opreg voor Hom. Fokus op sy wil. Beleef dan sy magtige teenwoordigheid in jou lewe!

Almagtige God, dankie dat ek by hierdie verbond met Abram ingesluit is, dat ek ook in sy seën kan deel. Help my om opreg voor U te wees, elke dag bewus van U teenwoordigheid. Dankie dat ek, soos Abram, kan staatmaak op u troue liefde en op u kragtige ingrype. Ek het dit so nodig! Amen.

BEDINK VANDAG: Ek is in verbond met El Shaddai.

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, WESENLIKE WOORD, te lees, kliek hier

© 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

8076283490?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –