4331 Sien jy die bos brand?

1 Moses het sy skoonpa, Jetro, die priester van Midian, se kleinvee opgepas. Hy het die kleinvee diep in die woestyn in gejaag en uitgekom by die berg van God, by Horeb. 2 Daar het die Engel van die HERE aan hom verskyn in 'n vuur wat uit 'n doringbos opvlam. Eks. 3:1-2a BDV

Nadat Moses uit Egipte gevlug het, het hy veertig jaar in die Arabiese woestyn gewoon, waar hy sy skoonpa se skape opgepas het. Daar het hy seker dikwels gewonder of dít nou God se doel vir hom was. Eendag bemerk hy hoe ‘n doringbos brand maar nie uitbrand nie, en gaan stel ondersoek in. Dan hoor hy ‘n stem en vind God daar en ontvang ‘n roeping wat sy lewe radikaal verander.

Weet jy wat? Ons kry baie keer waarvoor ons soek. As ons na God op soek is, sal ons God vind. Hy brand steeds in soveel bosse om ons, maar ons sien dit nie. Hy praat die hele tyd, maar ons hoor dit nie. Ja, die hele natuur is deurspek van sy teenwoordigheid, mense om jou getuig van Hom en sy waarhede, sy Woord verklaar sy bedoelinge so duidelik, jou omstandighede roep tot jou, jou pad tot hier vertel ‘n hele storie. Kan jy dit onderskei? Hoor jy sy stem? Sien jy die bos brand?

Altyd-teenwoordig God, ons lewens is so gejaag en oppervlakkig dat ons U beswaarlik kan vind. Bring ons in ‘n woestyn van stilte en van soeke, waar ons innerlike oë oop is om u tekens te gewaar, ons innerlike ore gereed om u stem te hoor praat. Wys ons dan wat die pad is wat ons moet loop, en watter toekoms U vir ons in gedagte het. Amen.

BEDINK VANDAG: Here, ek wil U vandag sien!

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, WESENLIKE WOORD, te lees, kliek hier

© 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

8100111456?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –