4335 Geen Gods-beelde

4 Jy mag nie vir jou 'n gesnede beeld van 'n god maak nie - enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo, of op die aarde hier onder, of in die waters onder die aarde is nie. 5 Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is 'n besitlike God... Eks. 20:4-5a BDV

In Bybelse tye het die volke beelde van hulle afgode gemaak en dit dan aanbid. Dit het die Here, in hierdie tweede gebod, egter streng verbied. Ons mag nie eers vir Hóm op die manier probeer aanbid nie, want ons kan Hom geensins genoegsaam begryp of verbeeld of met ons kuns weergee nie. Hy is altyd groter as wat ons kan dink of droom! Nee, op die manier eindig ons met ‘n menslike skepping en aanbid dan dít. Dis valse godsdiens.

Ongelukkig het ons steeds menslike “beelde” vir God. As ons vashou aan ‘n vals “godsbeeld”, kom dit presies op dieselfde neer. Vir sommige is God ‘n streng koshuisvader wat oortredings noukeurig aanteken, sodat hy dit later kan straf. Vir ander is God weer ‘n goedige Kersvader wat alle sondes weglag. Nog ander sien Hom as afwesig, soos hulle eie pa dalk was. Dis alles vals! Nee, kry jou godsbeeld in die Skrif. Kry dit by Jesus, wat vir ons kom leer en wys het hoe die Vader is!

Hemelse Vader, Goeie Vader, Liefdevolle Vader. Leer my hoe U is. Laat ek U herontdek in Jesus se woorde en lewe. Laat ek U nuut vind in my eie lewe. Dankie vir u almag en heiligheid, dankie vir u regverdigheid. Dankie, bowenal, vir u liefde en genade. Maak my soos U is! Amen.

BEDINK VANDAG: Wat is my godsbeeld?

Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.

Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

Om meer oor ons huidige reeks, WESENLIKE WOORD, te lees, kliek hier

© 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

8125619492?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –