4348 Ontvang die seën

So moet julle die Israeliete seën; sê vir hulle: 24 “Mag die HERE jou seën en jou beskerm. 25 Mag die HERE sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. 26 Mag die HERE sy gesig na jou toe lig en aan jou vrede gee.” Num. 6:23b-26 BDV

Hier vind ons Israel se amptelike seën, wat slegs priesters mag uitspreek. Dit word tot vandag toe in sinagoges gebruik. As daar ‘n kohen teenwoordig is, iemand met priesterlike bloed (tipies iemand met die van Cohen), mag hy dit amptelik uitspreek, met die uitstrek van sy hande. So nie kan die rabbi dit gewoonweg bid. In elk geval, dis ‘n besonder heilige seën, waarvan die Here sê dat Hy dit sal eer.

Weet jy wat? Ons wat in die vryheid van die Nuwe Verbond leef, mag dit ook gebruik! God het ons as ‘n “heilige priesterdom” aangestel. Ons is sy koninkryk en sy priesterlike volk, volgens die Woord. Daarom spreek ons hierdie seën uit in ons kerke, en onder mekaar. Bestudeer die priesterlike seën; kyk hoe dit oploop van beskerming na genade en na shalom-vrede. Hoe pragtig! Memoriseer en bid dit, sê dit, spreek dit uit in geloof, oor jouself en ander. Die Here sal dit eer!

Getroue Verbondsgod, dankie dat ek deur Jesus Christus ingesluit is by u volk. Dankie vir die priesterlike voorregte wat ek het: om U by mense te verteenwoordig en mense by U, in gebed. Dankie dat ek in Jesus’ Naam  mag optree, met sy gesag. Dankie dat ek mense mag seën met die volle geloof dat hulle dan, in U, geseënd sal wees! Amen.

BEDINK VANDAG: (memoriseer die priesterlike seën)

  • Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.
  • Jy kan ook na hierdie oordenking luister op ons Facebook-Blad, kliek hier
  • Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.
  • © 2020 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | jimileroux.com

8210330276?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –