4416 Hy is naby

18 Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in waarheid aanroep. Ps. 145:18 BDV

Aanvaar hierdie stelling van Dawid maar as ‘n feit. As iemand God opreg aanroep, is Hy daar – onmiddellik. Om God aan te roep suggereer ‘n implisiete geloof in Hom, en die Woord sê ons sal Hom vind as ons glo dat Hy is, en ‘n beloner is van die wat Hom soek. Ons hoef egter nie ver te soek nie. Ons hoef nie berge en dale te deurkruis, of op ‘n pelgrimstog te gaan nie. Hy is nie noodwendig in hierdie of daardie kerk, of by ‘n spesifieke leraar nie. God is so naby aan jou as ‘n gebed.

Ons wat God deur Jesus Christus dien, het sy Gees in ons harte. Nader kan Hy nie kom nie! Daar – in die innerlike heiligdom, die binnekamer van ons gees – kan ons Hom vind. Maak dus jou oë toe. Vind ‘n manier om by jou verwarde gedagtes verby te kom en sak af na die stil plek waar Hy woon. Vind jou vrede dáár!

Dankie Vader, dat U naby aan my is, nader aan my as my eie asem. U is by my, om my, in my. Dankie dat ek U altyd vind as ek U soek. Dankie dat U altyd daar is, onmiddellik daar is, wanneer ek na U roep. Watter troos, watter krag! Amen.

BEDINK VANDAG: God is naby.

  • Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.
  • Jy kan ook na hierdie oordenking luister op ons Facebook-Blad, kliek hier
  • Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

© 2021 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com8690661695?profile=RESIZE_400x

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –