4418 Ken Hom

6 Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie reguit maak. Spr. 3:6 BDV

Spreuke is tipiese Bybelse wysheidsliteratuur. Wat is wysheid, egter? Wysheid is nie soseer kennis nie, maar die insig wat kennis en ervaring bring. Wysheid gaan oor die lewenskuns, oor volwasse en verantwoordelike besluitneming. Die Bybel onderstreep telkens dat wysheid met ‘n verhouding met God begin, soos in hierdie vers. Let op:

  • “Ken Hom in al jou weë”beteken om jou lewe voor God en met God te leef. Dit beteken eerstens om Hom te ken as jou God, en tweedens om met Hom as Verwysingspunt te leef. Dis om jou besluite met Hom in gedagte te neem.
  • “Dan sal Hy jou paaie gelykmaak”verwys na jou hele lewenspad. Ja, die lewenspad is soms moeilik, met allerhande opdraandes, draaie en engtes, maar God maak dit vir jou gelyker. Hy maak jou lewe duideliker, jou kragte meer.  

Luister maar na wysheid: ‘n lewe met die Here is die beste lewe! Kom ons stel dit so: veel eerder met God deur die op en af van die lewe as sonder Hom!

Hemelse God, dankie dat ek U mag ken as Here en Verlosser. Dankie dat ek met U mag lewe as my Gids en my Krag, deur u Gees. Daar is vir my geen ander lewe as met U nie. Ek wil U ken op al my weë... maak my weë gelyk! Amen.

BEDINK VANDAG: Maak my paaie gelyk!

  • Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.
  • Jy kan ook na hierdie oordenking luister op ons Facebook-Blad, kliek hier
  • Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

© 2021 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –