4421 Goue appels

11 Goue appels in silwer monterings, so is 'n woord uitgespreek op die gepaste tyd. Spr. 25:11 BDV

Volgens die Bybel word ‘n dwaas aan sy spraak uitgeken. ‘n Dwaas praat dwase dinge. Hy praat onsinnig en onwaar. Hy praat te veel. Sy woorde breek mense af. Net so word ‘n wyse ook geken aan sy woorde. Hy is bewus van die impak van sy woorde. Hy kies sy woorde. Hy hou by wat waar en opbouend is. As hy praat, kan jy maar luister. Sy woorde is soos “goue appels, geset in silwer”: mooi, aangenaam om te beleef.

Almal van ons moet meer op ons spraak let! Ons kan begin deur bloot minder te praat. Ons hoef nie op alles te reageer nie. Daar is baie wysheid in swye, en baie sonde in woorde! Wag eers ‘n bietjie voor jy reageer. Dink daaroor, of vra die Here: watter antwoord sal die verhouding bou, sal die situasie verbeter, sal U eer? Maak seker jou woorde is eerlik en opreg, waar, opbouend en liefdevol. Ja, soms moet ons in liefde reguit wees – net solank dit opregte liefde is!

Hemelse Vader, gee my wyse woorde, wyse spraak. Help my om deur my woorde op te bou, om vreugde en vrede in ‘n situasie in te dra, lig te bring vir ‘n donker gemoed. Help my veral om deur my woorde te ondersteun en te bemoedig, om óm te gee, om liefde te bewys. Amen!

BEDINK VANDAG: Ek let op my woorde.

  • Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.
  • Jy kan ook na hierdie oordenking luister op ons Facebook-Blad, kliek hier
  • Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

© 2021 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

8725097099?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –