4422 Sy moet geprys word

30 Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; ‘n vrou wat vir die HERE ontsag het, sy moet geprys word. Spr. 31:30 BDV

In Bybelse tye het ‘n vrou minder regte gehad as ‘n man. Sy kon gewoonlik nie eiendom besit, van haar pa erf of in ‘n hof getuig nie. Dis daarom verrassend om te sien hoe sterk die “knap vrou” van hierdie hoofstuk beskryf word. Sy sorg vir haar gesin, maar produseer ook goedere om mee handel te dryf. Sy koop selfs grond en boer daarop. Dit alles maak haar man trots. Sy grootste kompliment is egter dit: “‘n Vrou wat die Here dien, sy moet geprys word!”

Kom ons vergeet vandag van die verskille tussen ons tyd en Bybelse tye. Kom ons bevestig eerder die volgende: vroue wat die Here dien, moet geprys word! Vroue het dikwels ‘n geestelikheid wat mans nie het nie. Vroue het ook hul eie, innerlike krag. Waar vroue die Here dus voluit dien, gebeur buitengewone dinge! Trouens, God se kerk en koninkryk word grootliks deur vroue gedra. Prys die Here vir sterk vroue, prys Hom vir toegewyde, geestelike vroue!

Hemelse Vader, dankie vir vroue wat U dien. Dankie vir die verskil wat hulle maak in die wêreld, in die kerk en in hulle gesinne. Ek prys U vir sulke vroue! Hulle moet lof ontvang, sê u Woord; help my dus om die vroue wat my lewe, om u ontwil, aangeraak het, werklik te eer en te waardeer. Hulle verdien dit! Amen.

BEDINK VANDAG: Ek eer die vroue in my lewe.

  • Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.
  • Jy kan ook na hierdie oordenking luister op ons Facebook-Blad, kliek hier
  • Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.

© 2021 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | www.jimileroux.com

8729714890?profile=RESIZE_400x

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –