4429 Hou my teen jou

[Sy] 6 Dra my soos 'n seël teen jou hart, soos 'n seël aan jou arm; want liefde is kragtig soos die doderyk – die liefdesgloed is 'n vlammende vuur, 'n verterende vlam. Hoogl. 8:6 BDV

Die bruid van Hooglied wag vir haar bruidegom om te kom. Dis ‘n tyd vol verlange, waarin sy gedurig dink aan die ontmoeting wat voorlê. Sy vra dat hy ook altyd aan haar sal dink. Hy moet haar teen sy bors hou, by wyse van spreke, soos sy persoonlike seël wat aan ‘n ketting om sy nek hang. ‘n Seël is in hulle tyd gebruik om te bevestig dat dokumente eg is.

Onthou dat die Here vir ons ook seëls gegee het, as die bewyse dat sy verbond met ons eg is. Die doop en nagmaal is sulke “tekens en seëls”, onder andere. As ons dit gebruik, herinner dit ons aan Hom en bevestig en verseël dit telkens weer sy beloftes. Die Here het ons inderdaad lief en het ons aan Hom verbind. Hy dink altyd aan ons, sê sy Woord. Hy sál vir ons sorg en sál na ons terugkeer. Bly jy ook net getrou aan jou Bruidegom en aan jou verbond!

Hemelse Vader, dankie vir u verbintenis aan ons, onderteken in die bloed van Jesus. U bly getrou daaraan; ek kan daarop staatmaak! Ek bid, Here, dat U ook sal kan staatmaak op mý getrouheid. Maak my getrou, hou my liefde brandend, laat my volhard en maak my vrugbaar in hierdie tyd waarop ons op U wag. Amen.

BEDINK VANDAG: Liefde is kragtig soos die dood.

  • Om in te skryf op hierdie gratis oordenkings, kliek hier.
  • Jy kan ook na hierdie oordenking luister op ons Facebook-Blad, kliek hier
  • Stel asseblief hierdie pos as Safe Sender in jou Junk Mail Options.
  • © 2021 DAAGLIKSE STILTE deur Jimi le Roux (Addisionele Lys) | jimileroux.com

8769830500?profile=RESIZE_400x

 

You need to be a member of jimileroux.com to add comments!

Join jimileroux.com

Email me when people reply –