Forum 2.0

Antwoord op... ALLES GAAN OK WEES?

VRAAG

Jy sê in jou dagstukkie: Alles gaan OK wees...  Ek het waardering vir jou bedoeling, maar wat van al die Christene wat regtig sukkel, en selfs honger ly, en die miljoene mense wat in die grootste gebrek lewe - selfs kinders wat van die honger sterf?  Kan mens vir hulle sê: Alles gaan OK wees?  Wat antwoord jy hierop?

 

ANTWOORD

Hallo – ja, dis ‘n goeie en belangrike vraag en iets wat ek al mooi moes oorweeg.  Glo my, ek vra dieselfde vrae...  Dit is nogal ‘n risiko om vir mense te sê “Alles gaan OK wees”, want sommige kan vir jou skryf (en het) en vertel hoe NIE OK dit vir hulle as gelowiges gaan.  Want dit is waar.  Gelowiges gaan ook bankkrot en ly skade, en in ekstreme gevalle – waarna jy verwys – ly hulle wel honger of gaan dood.  Ook die kinders.  Ek sou soos volg daarop antwoord:

  • Die vers wat ek aanhaal en die stelling wat ek maak is ‘n waarheid.  Dit staan so in die Bybel en op grond daarvan kan ons dit maar herhaal of verkondig.  In daardie sin is ons probleem dan met die Skrif, nie met die boodskapper nie. 
  • Die stelling: “Jy sal OK wees” is ‘n geloofstelling.  Dit is ‘n stuk verkondiging aan mense wat inderdaad sukkel en bedoel om hulle aan te moedig om aan te gaan en op die Here te vertrou vir uitkoms.  My boodskap is VERTROU en WERK.  Inderdaad het sommige vir my laat weet dat dit hulle bemoedig het.  Ek weet regtig nie hoe of wanneer die Here hulle gaan help nie, en of dinge eers slegter gaan word nie, maar ek weet wel UITEINDELIK kan die Here vertrou word, sal Hy help, en sal alles OK wees.  Ek glo dit m.a.w. van hulle en verkondig dit vir hulle.  Geloof sien wat die oë nog nie kan nie.  Geloof help ons om in die gebroke wêreld te leef en te hoop.  Wat sou ons daarsonder doen?
  • Nou wat betref die hopelose situasie van duisende en miljoene mense wat verhonger en dies meer, selfs doodgaan.  Dis verskriklik.  Die boodskap geld vir hulle nog steeds, want dis die waarheid.  Dis een van daardie paradoksale dinge wat ons self nie verstaan nie, maar aan vashou.  God is goed, maar mense sterf van die honger – beide is waarhede.  Hoe nou?  Die twee kom (nog) nie by mekaar nie.  Dis egter ons taak om die twee bymekaar te bring deur God se opdrag om lief te hê.  Vir sulke mense sou ek dus nie sommer so ‘n boodskap bring nie (ons oordenkings is eerstens gerig op Afrikaanse mense met internet...) – vir sulke mense moet ons hoop bring in die vorm van kos; kos, geregtigheid, ekonomiese verandering, humanitêre en politieke aksie.  Dit behoort ons "verkondiging" te wees (in dade) en daarmee saam (nie sonder dit nie) die Woordverkondiging.  William Booth (stigter van die Salvation Amry) het gesê you can’t preach the gospel to a hungry man.

Ai [G], dis omtrent die beste antwoord wat ek kan gee – dit bly maar een van daardie goed wat eers in die Eendag regtig verstaan kan word!

Goed gaan!

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –