Forum 2.0

Bedelaars en boemelaars: hoe moet ek reageer?

Hierdie is my eie vraag - nie een wat ek ontvang het nie.  Ek soek self ‘n antwoord!  Wat staan ‘n Christen te doen wat betref die vele bedelaars op die straathoeke, met of sonder ‘n bordjie om die nek, parkeerwagte, die wat aan my deur kom klop en die straathoekverkopers?  My behoefte is om die Bybelse riglyne hieroor goed te verstaan, en ek dink dit is die volgende (o.a.) –ek bid dat ek die Heilige Gees se bedoeling hier onderskei:

1. “Wie nie werk nie, mag nie eet nie” 

Paulus sê dit o.a. in 2 Tes 3:10-12 (sien ook 1 Tim 5:8):

Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”  Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei.  Sulke mense beveel en gebied ons op gesag van die Here Jesus Christus dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien.

 Om te werk is belangrik.  Die wat nie WIL werk nie, behoort nie in so ‘n lewenstyl gehou te word deur ander mense se welwillendheid nie.  Soms kry jy met ware luiaards of geslepe manipuleerders en bedrieërs te doen, en vir hulle moet daar duidelik nee gesê word.  Maar in vandag se wêreld is daar baie wat nie KAN werk nie.  Let op:

 Veral onder die agtergeblewe deel van ons bevolking is die wat ‘n goeie werk het ‘n elite.  Daar is ‘n groot persentasie mans wat NOOIT in hulle lewe ‘n vaste werk sal hê nie.  Hulle bly ALTYD afhanklik van gunste en gawes.  Watter impak het dit op ‘n mens? Navorsing bewys dat daar ‘n “mentaliteit van armoede” ontwikkel:

  • Mense hou na ‘n klompie probeerslae op om te soek
  • Die emosionele gevolge van honger en gebrek is depressie, minderwaardigheid, magteloosheid en woede/jaloesie
  • Mense leef dan net vir die dag en probeer soveel plesier as moontlik kry, bv. deur te eet, slaap, drink
  • Maatskaplike probleme is te veel om te noem: misdaad, groot gesinne (ironies maar dit hou direk met armoede verband), alkoholisme en geweld, siektes en ‘n korter lewenspan;  ‘n lae opvoedingspeil en swak opleiding lei tot die hartseer siklus van ‘n volgende generasie wat ook net hul hande-arbeid kan aanbied.  Net enkeles kan hierdie siklus ontsnap. 

Armoede kos almal geld, want baie belastinggeld gaan na lewensonderhoud, mediese sorg, ens. Dit is van die grootste belang dat die ekonomie sal groei sodat daar meer werk geskep word sodat daar ‘n groot middelklas ontwikkel wat vir hulle self kan sorg. ‘n Deel van die oplossing is dat Christene aktief en polities betrokke raak dat DIT sal gebeur – die probleme is nie net persoonlik nie, maar is dikwels struktureel en op hoë vlak.

Ons moet werk en armoede dus reg verstaan. Om net te sê iemand “wil nie werk nie” of ‘n ander stereotipe getuig van onkunde en is in die meeste gevalle verkeerd (en onregverdig).  Verreweg die meeste armes sal enige tyd met my en jou wou plekke ruil!  Werkloosheid, armoede en bedelary  is ‘n tipiese probleem van die ontwikkelende wêreld.  In Bybelse tye was dit ook so, want daar was ook ‘n klein ekonomie en geen staatshulp nie! Bedel was maar die enigste manier om te oorleef vir die wat nie kon werk nie. Jesus sê…

2. “Die armes het julle altyd met julle”

Toe Maria in Betanië Jesus met die kosbare olie salf, sê Judas skynheilig dat die geld vir die armes gegee kon word, waarop Jesus die bg. antwoord gee (Mat 26:11).  Sy bedoeling is nie dat daar maar gelatenheid moet wees oor armes nie, of dat ons hulle maar kan vergeet nie, maar dat hulle altyd daar is om voor te sorg.  Hy self is egter nie altyd daar om te versorg en te bedien nie, en daarom is Maria se daad in orde.  Ons leer daaruit  (1) dat ons maar aan die Here se saak mag spandeer (sekerlik binne sekere perke), en (2) dat die versorging van die armes maar altyd ons taak bly.  Dit is ‘n konstante verantwoordelikheid. Trouens, Jesus fokus in sy prediking baie op armes:

  •  “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig…” Luk 4:18 
  •  Gee liewer wat in die bekers en borde is, vir die armes, dan sal alle dinge vir julle rein wees. Luk 11:41 
  •  Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle 'n beurs aan wat nie leeg raak nie, 'n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie.  Luk 12:33 
  •  Nee, as jy 'n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Luk 14:13 
  •  Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom (aan die ryk jong man): “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.” Luk 18:22 
  •  Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” Luk 19:8 

Jesus sluit by sy Joodse tradisie aan as Hy sê die drie groot geestelike pligte is gebed, vas en aalmoese gee (Mat 6:1-4).  Jesus wil hê ons HART MOET REG WEES as ons na ‘n arme kyk.  Ons gaan te dikwels in ‘n verdediging in, of probeer afstand skep tussen ons en die probleem deur ontkenning of redenasies.   Dalk reageer ons met woede of vrees – die Here wil eintlik ‘n HART VAN LIEFDE in ons kweek.  Onthou die groot gebod – “jou naaste soos jouself” (Luk 10:27).  Onmiddelik kom die vraag dan (soos by ons) “Wie is my naaste?” – met die doel dat my naaste net my eie familie, vriende en volk is.  Jesus vertel dan die verhaal van die Barmhartige Samaritaan.  Jou naaste is die een op jou pad wat ‘n behoefte het – al is hy van ‘n ander volksgroep (Luk 10:29-37).  Laat die Here jou hart verander, dis nommer een.

Ons moet ook verstaan wat ons betrokkenheid by ons geld is – ons moenie redeneer dat dit ALLES ONS S’N is nie, want ons het ons HELE LEWE vir die Here gegee.  Ons is die rentmeesters van die Here se geld (Mat 25:14-30).  Ons moet dus by Hom toestemming kry oor wat om daarmee te  doen – hetsy dit te gebruik (ons mag ook die lewe geniet), dit te gee of dit ook nie te gee nie.

Die vroeë kerk het die kwessie van die armes ook ernstig opgeneem – kyk bv. by Hand 9:36, 10:2-4, 20:35.  Dink aan die groot insameling vir die arm gelowiges in Jerusalem (2 Kor 8-9) en lees ook 1 Kor 11:22, Gal 2:10, Ef 4:28). Hulle leuse is “eerstens aan medegelowiges, en dan ook aan almal” (Gal 6:10).   Ons het dus ‘n verantwoordelikheid – ons vraag is net wat is dit?  Ek sou sê:

  • Die kerk het ‘n taak teenoor armoede en elke gemeente behoort ‘n armoede projek te hê van een of ander aard, verkieslik iets plaaslik.  Ek en jy moet moet dan daaraan deelneem, verkieslik deur nie net geld te gee nie.  Ons moet tog iewers ‘n verskil maak.  As ons heelhartig betrokke is by so iets, kan ons seker maar by baie straatbedelaars verbyhou.
  • Maar dan kom daar ook mense op ons pad waaroor ons ‘n besluit moet neem, en dit bring ons terug na die straathoeke…

3. “Almal wat deur die Gees van God gelei word, die is kinders van God.”

Mens KAN NIE ‘n reël of wet maak wat die straathoekvraagstuk betref nie – moet ek gee of nie?  Ons moet eerder die leiding van die Gees soek by elke individuele geval (soos die bg. vers sê Rom 8:14), maar ek het die volgende riglyne vir myself neergelê wat ek voel tog Bybels verantwoordbaar is:

  • Ek moet reg wees om iets te gee en daarvoor moet mens maar silwer in die kar gereed hou.  Dis nou maar soos die lewe vandag is.  Ons hou deesdae ook sakkies hondepille in die kar en ‘n bottel water en het dit al meermale vir ‘n verwaarloosde dier langs die pad gegee.  ‘n Kollega in ‘n vorige gemeente het die nuttige advies gehad dat mens pakkies grondboontjies en rosyntjies in die kar moet hou vir diegene vir wie jy nie geld wil gee nie, of waar jy bang is die geld gaan nie by die blinde persoon, of kind uitkom nie.  Dit is goedkoop, maar voedsaam en hou lank.
  • Ek hoef nie almal te help nie.  Dit is finansieel en emosioneel onmoontlik. Dit sal ons totaal ruïneer.   Ons word so oordonder deur die armoede en ellende dat ons (dis nou ek) dikwels regtig net nie kans sien om nog te veel daarvan te hanteer nie, dis asof ek nie krag het nie.  Die Here verwag dit ook nie.  Ek moet ‘n verskil maak, maar ek kan nie aan almal ‘n verskil maak nie.  Ek gee dus elke dag iets, maar op ‘n kol gee ek nie meer nie – dan het ek reeds daardie dag genoeg gegee;
  • Daar is ‘n verskil tussen die wat net bedel en die wat aanbied om iets te doen (die met ‘n bordjie wat sê dat hulle werk soek bedoel dit meestal nie werklik nie, en daar is volgens my ‘n redelike stuk bedrog en manipulasie in daardie benadering).  Daarom gee ek meestal vir parkeerwagte iets ten spyte van die feit dat hulle min werklike diens lewer - omdat hulle wel wil werk en baie ure insit.  So koop ek ook maar soms iets op die straat (net goed wat ek nodig het soos vullissakke) – selfs al kry ek dit goedkoper by die winkel.  Die verskil is maar my bydrae;
  • Ek gee nie vir dronk mense nie, en gaan ook nie met hulle in ‘n redenasie nie –sinneloos;
  • Ek gee nie vir iemand wat blatant vir my lieg nie.  As leraar (en iets op my voorkop maak my ‘n gewilde teiken al stap ek net in die straat) het ek wonderlike stories van ingeloop word en moes mettertyd met die Here die saak uitmaak: as Hy iemand op my pad stuur wat werklik behoefte het, sal ek probeer om ‘n verskil te maak, maar as iemand vir my lieg sal ek nie.  Mens kan dit vasstel deur eenvoudig ‘n oproep te gaan maak – vra die persoon wat vir jou ‘n storie spin net ‘n foonnommer en gaan bel dit, die storie val net daar inmekaar, nou die dag nog ‘n outjie wat dringend by sy werk moes kom in die buurdorp so opgevolg en vasgestel hy werk g’n by daardie Spur nie, en daar ken hulle hom en sy trieks al.  Sommige van die ouens is egter so goed met hulle kinkels, mens moet hulle eintlik bewonder.
  • Ja, ek word ingedoen want baiekeer kan mens nie opvolg of daar werklik ‘n honger kind by die huis is nie, of die kool (die geld) is nie die sous (die hele verifikasie) werd nie, en dan gee jy maar net. My uitgangspunt is dat ek eerder sal fouteer aan die kant van te veel help as te min, en dat ek ter wille van Jesus bereid is om misbruik te word as dit moet.
  • Ek gee ook soms doodgewoon nie –  ek voel soms net nie ‘n drang nie (ek weet dit klink nie reg nie),  ek is dalk baie besig op daardie stadium, ek het nie geld in die huis nie (ek probeer altyd kos gee), ek vertrou nie die persoon, storie of omstandighede nie, het reeds onlangs genoeg gegee, of kan eenvoudig emosioneel nie op daardie stadium nie.  Ek het wel besluit om nooit kwaai of lelik te wees met ‘n arme nie en sal so vriendelik moontlik nee sê. Ai, en van die mense is so desperaat dat die bietjie vriendelikheid hulle noop om weer te kom probeer…
  • Sommige mense moet nie geld ontvang nie, want dit maak ‘n slegte gewoonte vas.  Ek glo kinders moet nie in ‘n straatkultuur vasgevang word nie – daar is baie euwels in die verband aan die gang; ek glo ook nie babas of kleintjies moet gebruik word om geld te maak nie – dit is manipulerend en onregverdig teenoor die kind (en teen die wet).  Mens  moet eerder vir die toepaslike welsynsorganisasie geld skenk – hulle vra juis dat mens nie vir straatkinders geld moet gee nie.  Ek dink die grondboontjies en rosyntjies is hier ‘n goeie idee – dis voedend en hulle kan dit nie aan ‘n bendeleier oorhandig of daarmee gom gaan koop nie.  Alkoholiste kry ook ongelukkig nie.

Ten slotte – ons moenie die genade vergeet nie.  Genade gaan nie oor verdienste nie.  Ons leef ook maar uit genade.  Ja, soms gee ek maar ten spyte van enige van die bg. riglyne bloot op grond van die besef dat ek self so begenadig en geseënd is.  Soms sê ek net dankie dat ek nie in daardie posisie is om op straat te moet bedel, of mense loop en bedrieg, om iets te bekom nie (en ek bedoel nie hoogmoed daarmee nie.  Ek is genadiglik aan die gee-kant van die vergelyking en nie aan die ontvangkant nie.  Soms kry ek persone werklik jammer, soms wonder ek hoe hulle lewe is, soms wonder ek wat Jesus sou doen, soms wens ek ek kon soos Hy net ‘n wonder doen vir iemand.  Ek wil ook nie ‘n kleinlike en suinige lewe leef nie – ek wil lewe uit die oorvloed van God in my hart.  Weet jy wat?  Om te gee het my nog nooit armer gemaak nie.  Hoe meer ek gee, hoe ryker word ek.  Dit is die feite.

Die Here seën!

NASKRIF:  Ons kry self dikwels versoeke vir donasies - meer eintlik dat ons behoeftes op ons netwerke bekendmaak.  Dit is ongelukkig onmoontlik - en die sake is regtig so verdienstelik en nodig.  Dit sal beteken dat ons baie behoeftes bekend sal moet maak aan mense wat nie daarvoor ingeskryf het nie, en spoedig van ons lyste sal afteken.  Ons probeer reeds geen ongewensde pos stuur nie.  Wat liefdadigheid betref moet elkeen kies waar en wat hy kan ondersteun en dit behels noodwendig dat die ander sake nie ondersteun kan word nie.  Ons bedryf 'n bediening wat self afhanklik is van bydraes!  Baie sterkte.

Verdere opsies vanaf www.jimileroux.com

  • Skryf in op ons gratis daaglikse oordenkings, wat daagliks deur duisende gelees word, regoor die wêreld. Teken te enige tyd weer af. Kliek hier.
  • Kyk deur ons vele kleurvolle kursusse om jou geestelike lewe te verryk. Leer hoe om geestelik te lewe, te bid, die Bybel te lees, Jesus te verstaan of kyk na ons huwelikskursus, man-kursus of leierskap-programme! Kliek hier.
  • Wonder jy oor geestelike dinge? Lees ons geestelike vrae en antwoorde! Kliek hier.
  • Wil jy meer lees oor wie ons is en wat ons doen? Kliek hier.
  • Skryf gerus aan ons met jou vraag, gebedsversoek of kommentaar! Gebruik die kontakvorm op hierdie bladsy: Kliek hier.

  

 

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies are closed for this discussion.

Replies

  • Wat 'n wonderlike berig.  Weet jy hoeveel het ek al gewonder "moet ek of moet ek nie" - "sal ek of sal ek nie"?.  Jy ken my - elke keer as ek nee sê vir iemand voel ek soos 'n hond en is sielsongelukkig.  Toe het ek begin om te bid en te vra dat die Heilige Gees vir my sal uitwys vir wie ek of wanneer ek moet help.  Maar soos met alle dinge is mens soms minder ingestel of wil jy jou eie kop se ding doen en luister jy nie.  En sulke tye, dan kry ek swaar.  Eerstens voel ek ek word "getarget" deur hierdie mense.  Hulle sien jou van ver af aankom (en omdat ek nie 'n motor het nie, is ek absoluut 'n oop teiken) en bedink hulle storie en dit klink so:  "hallo my merrim..........ooooo, Charles trek sy nie pragtig aan nie en sy lyk altyd so mooi.........en o, ja merrim is daar iets vir my...........?"  Punt nommer een is ek onmiddellik lekker vies vir hierdie geheuning om die bek smeerdery en punt nommer twee was my dag ook maar gaga en punt nommer drie is ek nie lus om met hulle te praat nie............en voor ek my kom kry bars dit oor my lippe:  "NEE, en moenie met my praat nie.  Raai wat ek voel alweer soos 'n hond en my hele aand is in sy peetjie.

    Genoeg hiervan het ek besluit en nou redeneer ek so:  "Alles wat ek het, behoort aan die Here.  Dit sal my nie doodmaak om ook vir 2 aande net brood te eet nie - so as ek geld het, gee dit."  Die Charles-siel en sy houvrou het soort van my "familie" geword.  So soms help ek en ander kere is ek sommer die dinges in omdat hulle so gesuip is. Maar die begrip van alles behoort aan die Here, maak dit makliker want dit is in alle niks van my wat ek weggee nie.

    Dit is en bly 'n moeilike saak.  Ek verkies ook om eerder te gee soos vir my kerk of enige ander barmhartigheidsdiens en dit word georden versprei en soos 'n besigheid bedryf.  Verder glo ek ook dat wat mens doen met jou hande(?) m.a.w. om iets self te maak en dit te gee vir liefdadigheid (soos ons handwerkgroepie bv) vir jou baie baie meer beteken as sommer net geld gee.  Dit werk ook vir my as ek spesiaal hulle broodjie  warm maak met lekker kaas op of soiets wat vir my baie lekker is m.a.w. soos ek vir myself sou maak, maak ek vir hulle.

    Maar helaas engel is ek niet en ek skel en weier duisend keer meer as wat ek gee en tog het ons klompie 'n baie goeie verstandhouding met worts and all.  So ek sukkel meer oor my skuldige gewete as ek so skel en niks gee as wat ek my bekommer oor hulle, want as jy verbyloop en niks gee nie - die volgende ou is die volgende target.

    Dan is daar die anderkant van die munt.  Jy werk saam met mense hulle vertel jou hulle behoeftes en jy wonder waar sal jy afknyp om hulle te help en raai wat - hulle koop nuwe tupperware, hulle koop skoene, hulle koop wat ookal iemand by die werk verkoop en jy wonder - het ek hulle verkeerd verstaan........? verkeerd gelees........?  En jy besef dat mense weet jy help graag en misbruik jou en ek verpes dit.  So dit is 'n dun, dun, fyn lyn om werklik te hoor en te verstaan wie Jesus op mens se pad plaas vir hulp.

    Nouja ek het nou omtrent 'n mondvol gebabbel.  Groete.  Rynie.

     

    • Ek is nuut aangesluit by die webblad, die laaste paar dae lees ek soveel ek kan oor al die vrae & antwoorde & so leer ek kort kort iets of kry ek 'n antwoord wat uiteindelik vir my sin maak.

      Ek en my vriend worstel al lank met die vraag oor bedelaars & karwagte. Ons is nou al so baie sleg ingeloop met mense wat lieg of mens manupileer, selfs deur lede in ons eie gesin. Ons wil regtig God se wil volg & reg doen aan ander maar dis moeilik veral as mens sien hoe party van die profesionele bedelaars mense uitbyt omdat hul op Sondae buite ons kerk bedel en blatant sê dis jou plig as gelowige om vir hul te gee.

      Ons het al 'n jong seun naby ons huis 'n tuin werk aangebied wat hy met 'n snedige opmerking en paar vloeke wegwys omdat hy meer verdien as ek in a week op daardie hoek. Kos gegee wat voor my in die drom gegooi word, ens. Is dit dan steeds my plig om te gee?

      Hoe help ek daardie tonne kinders wat se ouers hul misbruik by elke hoek om op gevoelens te speel? Hulle leer mos net om ook te bedel?

      Ons sukkel om vir karwagte te gee omdat mens dan reeds versekering op jou kar betaal & voel hul doen in elk geval niks as iemand jou kar 'n lelike stamp met 'n trollie toedien nie. U berig het my egter laat dink daaraan dat hul wel probeer, hul eintlik maar net doen wat hul glo 'n werk is om iets te probeer verdien.

      Ek het 'n baie sagte hart maar is al so vertrap & misbruik dat dit moeilik is om te gee, moeilik is om nog jammer te voel vir bedelaars. Sou nogal help as mens weet watter het Jesus op my pad gesit om my iets te leer & watter is daar gesit wat my ontferming benodig.

       

      • Dankie Klara!  Ons deel almlal daardie teenstrydige gevoelens.  Ek gee ook nie vir almal nie...  Dis goed dat jy die Here se stem probeer hoor in dit alles.

This reply was deleted.