Forum 2.0

Vraag

Hoe bid ek vir iemand met geloof - is dit nie teenstrydig as ek my in God se wil berus nie, dan het ek mos by voorbaat geen geloof nie? Hoe spreek ek lewe oor iemand wat 'n lewensbedreigende siekte het? Moet ek net aanvaar dat hy gaan sterf of moet ek aanhou bid in Jesus Naam dat hy gesond sal word?

Antwoord

Jou vraag is geldig – dit is natuurlik ‘n probleem. Ek het in ‘n huis groot geword waarin daar letterlik honderde mense in antwoord op gebed genees is (glo dit of nie, maar kliek hier as jy meer wil lees) – ek weet dus dat dit gebeur. Ek glo aan genesing deur gebed! Terselfdertyd het die Here nie vir my self ‘n gawe van genesing gegee nie (alhoewel ek dit baie hard gesoek het). Ek maak vrede daarmee dat ek (soos almal) ander gawes het. Volgens my moet ons dit soos volg aanpak:

• Die Woord sê ons moet vir siekes bid (Jak 5) en daarom kan ons dit met vrymoedigheid doen. Jy kan doodgewoon aanhou bid vir jou vriend, by die huis, in gebedsgroepe of gebedslyste, of deur vir hom hande op te lê, of met olie te salf.

• Jy kan egter niemand genees nie, en jou geloof is reeds genoegsaam as jy vir iemand vir genesing bid. Jy hoef niks besonders “op te wek” of te beoefen of te sê nie. Dit werk nie soos ‘n formule nie. ‘n Wonder gebeur as God se genade en ons geloof bymekaar kom. Altwee is egter nodig – geloof alleen is nie genoeg nie. God besluit. Jy kan dus ook nooit sê dat iemand nie gesond geword het omdat hy nie geglo het nie. Dit is ‘n misverstand dat enige-een gesond sal word as ons net genoeg geloof het. Dis verkeerde teologie dat die Here net vir ons in geluk, gesondheid en voorspoed wil hou. Die Here stel nie so erg in ons comfort zone belang as wat ons self daarin belangstel nie! Hy stel belang in ons verhouding met Hom.

• As iemand nie gesond word nie kan jy aanhou bid, as jy so voel. Ek sê gewoonlik ons hou aan om te bid totdat die gebedslas verdwyn. Maar as die persoon nie gesond word nie, moet jy jou ook berus in die feit dat die Here nie genesing gegee het nie. Om lewe of genesing te “spreek” oor mense, soos dit populêr plaasvind, is volgens my gebaseer op ‘n verkeerde gedagte dat ons woorde lewe skep net soos God s’n (alhoewel ek dit self ook in die verlede gedoen het!). Ek sien bv. nie dat Paulus “lewe spreek” nie – hy bid tot God, of hy beveel die siekte of toestand in Jesus Naam weg. Dit kom maar baie ooreen, maar ons moet nie die indruk kry dat ons in geloof (of geloofsuitspraak) voldoende is vir die wonder nie. Let God be God.

Dink daaroor na, en kyk waarmee jy kan saamstem. Goed gaan!

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –