Forum 2.0

Antwoord op... BYBELVERTALINGS

VRAAG

Is hulle besig om Christus uit die Bybel uit weg te vertaal?  Hoekom sny hulle sekere verse uit die  Bybel uit?  En watter vertaling van die Bybel is die regte een?  Hoekom moet daar nou weer ‘n Bybelvertaling wees? 

ANTWOORD

Ja, daar word tans ‘n nuwe Bybelvertaling gemaak, wat eers so 2020, volgens die vertaalkommissie, volledig beskikbaar sal wees.  'n Proefuitgawe van die Nuwe Testament en Psalms is reeds uit.  Daar is/was ‘n petisie in die rondte dat die vertaling ‘n New Age-vertaling is, en dat mense dit moet boikot. Wat gaan aan? 

 

Waarom word nuwe vertalings gemaak?

Wel, daar is drie redes:

1) Die taal verander

Ons praat nie meer Afrikaans soos in 1933 nie (kan jy glo ons taal het nou eers 80 jaar lank sy eie Bybel?).  Die Ou Vertaling (1933, hersien 1953) het dus outydse woorde soos “indagtig” (Jes 43:26),  “genoeëns” (Pred 2:8), “bygeval” (met die betekenis van “toevallig” – Luk 10:31), wat niemand meer verstaan nie, en die mooi woord “goedertierenheid” op baie plekke, wat ewe min mense regtig kan sê wat dit is (dit verwys na God se verbondstrou of verbondsliefde).  Dit is sekerlik redelik dat mens ‘n Bybel verskaf in die taal wat mense maklik kan verstaan.

2) Vertaaltegnieke verskil

Daar is twee soorte vertalings:

Direkte vertalings

Die eerste vertalings was almal baie direk vertaal.  Die Ou Vertaling lees soos die Hebreeuse idioom klink, bv. vol van “Kyk, die bewaarder van Israel sluimer of slaap nie” (Ps 121:4) - die Engelse lo and behold (omtrent ‘n duisend keer), die poëtiese parallellismes net so oorgeneem en die woorde presies soos dit in Hebreeus is, bv. Eks 20:5 wat sê dat God ‘n “jaloerse God is”, wat ons moet “vrees” (honderde plekke).  Dit is presies wat dit daar sê, maar die antieke Hebreeuse leser het daar aan iets anders gedink as waaraan daardie woorde die moderne Afrikaanse leser laat dink, want vir ons klink jaloesie en vrees negatief of kleinlik.  Konnotasies verskil.  Maar dis daardie Hebreeuse ritme en idioom wat die ouer Bybel-Afrikaans so “Bybels” laat klink, en dit was tog mooi. Ek hou steeds daarvan – dit het ‘n gewigtige en verhewe styl.  Ek is ook bly dat die poësie so meer behoue bly. Die Grieks weer, is ‘n taal wat met ‘n hoofsin werk en dan baie bysinne wat met “deelwoorde” inlei (participles, wat ons nie in Afrikaans dikwels gebruik nie). Die Ou Vertaling behou daardie vorm in die Nuwe Testament, wat baie omslagtig is – as jy wonder waarvan ek praat, lees net Efesiërs 1 in die Ou Vertaling – verse 3-6 is een sin, verse 7-14 een reuse lang sin, verse 15-21 weer een langs sin, jy sal dadelik sien. Dit is duidelik omslagtig en vreemd op ons ore.

Dinamiese vertalings

Vertaaltegnieke het egter verander.  Daar is begin dink dat vertaling meer is as om net die Hebreeuse woorde met Afrikaanse woorde te vervang.  Die doel van vertaling is eerder om die betekenis akkuraat oor te dra.  Die leser moet presies weet wat bedoel word, nie waar nie?  ‘n Dinamiese vertaling, soos die Nuwe Vertaling (1983) sal dus die idioom aanpas dat dit vloei soos in Afrikaans: korter sinne, moderne eenvoudiger woorde, die woordorde omdraai indien nodig (Afrikaanse werkwoorde wil bv. dikwels aan die einde van die sin staan) en les bes ook woorde so vertaal dat die betekenis duideliker uitkom, bv. die “jaloerse” God in Eks 20:5, is nie een wat kleinlik afgunstig is, of sukkel met jaloesie nie – Hy eis “onverdeelde trou”.  Dit gaan oor lojaliteit.  Om God te “vrees” beteken nie om die hele tyd vir Hom bang te wees nie, maar om Hom met eerbied en respek te dien (opf is dit bejeën?).  As jy dus die Nuwe Vertaling lees, lees dit lekker en verstaan jy sommer alles vanself. Ek beskou die Nuwe Lewende Vertaling ook as ‘n dinamiese vertaling en hou nogal baie van hom. 

Parafrases

Daar is natuurlik nog ‘n benadering (streng gesproke nie 'n vertaling nie), en dit is ‘n parafrase, soos Die Boodskap. Dit is eintlik meer 'n oorvertelling, 'n omskrywing. Dit skryf in lekker loslit-taal oor wat die oorspronklike teks sê en dra die betekenis en sommer die gevoel ook deeglik oor.  Dit lees amper soos ‘n storieboek.

3) Tekste verskil 

Hieroor gaan ek net min sê, maar dis baie belangrik.  Net dit: die oorspronklike, oorspronklike briewe en evangelies is mos lankal weg en wat ons het is oorgeskryfde kopieë.  Kopieë en kopieë van kopieë.  Oor en oor afgeskryf vir honderde jare.  Soos mens iets afskryf, so maak mens foute – jy laat ‘n woord uit, of skryf dieselfde woord twee keer na mekaar.  Soms los jy ‘n hele reël uit, veral as twee reëls op dieselfde woord eindig.  As mense dan nou weer daardie manuskrip oorskryf, word die fout net so herhaal – oor en oor.  Soms het iemand ‘n aantekening in die kantlyn geskryf, en die volgende persoon het gedink dit hoort as deel van die teks, en toe is dit skielik in die Bybel.  Nou het ons na tweeduisend jaar ‘n hele paar duisend manuskripte, en almal verskil – die een sê by ‘n vers “die man”, en ‘n ander sê op dieselfde vers “’n man” – sulke goed.  Hoe nou gemaak?  Laat ons eerstens sê dat dit nie hier gaan oor enige-iets wesenliks nie: geen dogma word aangeraak nie, dit gaan meer oor honderde klein verskilletjies.  Daar is wetenskaplikes (sg. tekskritici) wat daarmee werk en wat dit alles vergelyk.  Hulle het gevind dat mens die manuskripte in “families” kan sorteer, n.a.v. hulle enersheid of verskille.  Jy kan m.a.w. sien hierdie manuskrip kom uit die Alexandrynse teksfamilie.  Jy kan ook sy ouderdom bepaal n.a.v. die feit of dit op papirus geskryf is (die oudste, maar daar is min oor omdat papirus so maklik vergaan) of in ‘n boekvorm (kodeks) gebind is.  Van die lg. is die wat in hoofletters (majuskels) geskryf is die oudste en die in kleinletters (minuskels) die mee3 onlangste oorgeskryf – tot so laat as die 12de eeu.  Die eerste vertalings na moderne tale – die wat Luther-hulle bv. gemaak het (net 500 jaar gelede, onthou vir 1500 jaar het feitlik geen Christen ‘n Bybel gehad of Bybelstudie gedoen nie) – was gemaak uit die relatief laat minuskels wat hulle gehad het.  Hierdie teks – deesdae genoem die Textus Receptus – is die basis van Luther se Bybel, die Hollandse Staten-vertaling (wat voor 1933 ook ons Bybel was), die King James (1611), ens. – ook ons Ou Vertaling.  Sedertdien is daar egter baie gevorder met die hele tekskritiek as vak en bowendien ook nog uitstekende majuskel-kodekse ontdek.  Dit is tog duidelik dat die oudste manuskripte die naaste aan die oorspronklike dokumente staan en die minste oorskryf-foute bevat.  Daaruit is ‘n aantoonbaar beter bronteks saamgestel wat die bron is vir verreweg die meeste Bybelvertalings wat deesdae gedoen word. 

Die bg. redes verklaar hoekom daar van tyd tot tyd ‘n nuwe vertaling kom. 

 

Watter vertaling is nou reg?

Hier is die antwoord:  stylgewys is nie een vertaling beter as die ander nie – elke soort vertaling het nadele en voordele. Jy moet eintlik met altwee soorte voor jou oop sit – sommer nog ‘n Engelse een ook. Teksgewys is die nuwe vertalings inderdaad op ‘n beter teks gebaseer.

Nou oor die nuwe vertaling wat voorlê...

Ja, daar kom nou weer een, soos gesê, en sy doel is om TUSSEN die ou en nuwe vertaling te wees: meer direk as die huidige “Nuwe Vertaling” en meer dinamies as die “Ou Vertaling”.  Sy naam sal wees Die Bybel – ‘n direkte vertaling.  Gaan lees by www.nuwekerkbybel.co.za alles daaroor.  Ek is self opgewonde daaroor (dis immers al 30 jaar sedert die Nuwe Vertaling  gemaak is – Die Nuwe Lewende Vertaling is ‘n “privaat”-vertaling, maar hierdie een is ‘n “amptelike” een deur die Bybelgenootskap).  Ek is ook op ‘n veraf manier daarby betrokke in die sin dat ek ‘n “kerklike leser” is wat terugvoer lewer oor hoe dit vir my lees.  Dis natuurlik ‘n massiewe projek waarby 100e geleerdes betrokke is en dit word keer op keer oorgewerk in terme van akkuraatheid, taalkunde, ens.  Geen wonder nie so iets neem minstens 10 jaar.  Die nuwe Bybel sal veral welkom wees vir mense wat gedink het die “Nuwe Vertaling” is te losweg vertaal.  Ek het al my proefvertaling gekry (Nuwe Testament en Psalms) en dit het interessante verskilletjies: alle mates is in die oorspronklike eenhede (geen rande of liters meer nie), tegniese terme bly (die bepeins word letterlik "prewelend opsê"  soos dit toe gedoen is, name is nou weer Mattheus, Korinthiërs, ens. (met die th - soos dit in die Grieks is) en so aan.

 

Is die nuwe vertaling 'n komplot...

...om ons in die New Age, antichristelike een wêreldkerk in te lei?  Allermins!  Ek onthou met die vorige “Nuwe” (1983) vertaling was daar ook mense wat vermoed het ‘n komplot is aan die broei en daar is kerke en groepe wat tot vandag toe nog net by die Ou Vertaling staan.  Dit sal seker maar elke keer so wees...  Laat ek eerstens sê dat meeste van die mense wat hieroor aangaan nie kenners is van die vakgebiede van vertaling of tekskritiek nie.  Waaroor gaan die klagtes?  Die volgende is gewoonlik probleme:

  • Daar is mense wat staan by die Textus Receptus, wat hulle ook noem die Majority Text, want die meerderheid manuskripte is inderdaad so, maar onthou dis veral laat mansukripte en dus minder betroubaar.  Daar is ook mense wat nie hou van die feit dat sommige tekswetenskaplikes – wat aan die nuwe teks gewerk het – beslis nie goeie Christene was nie.  Hulle werk is egter oop vir elkeen om te beoordeel en vandag word die verkose teks gepubliseer saam met al die vernaamste variasies.  Daaruit kan elkeen sien waarom gekies was wat gekies was.  Vertalers kan nog steeds hulle keuse maak.  Vertalers werk baie versigtig en sal dikwels die onseker teks in elk geval in die Bybel plaas, met ‘n voetnota wat sê “volgens die gebruikte grondteks kom hierdie gedeelte nie voor nie, of wat ook al...”  As iets regtig as fout ingesluip het, word dit uitgelaat en dit hoort ook so – ons streef mos na God se werk, nie mensewerk wat langs die pad bygekom het nie?
  • Die probleem meer spesifiek met die heel nuwe vertaling is die verwysings na Christus in die Ou Testament.  Die Nuwe Testament haal mos die Ou Testament op plekke aan en interpreteer dit duidelik Messiaans - m.a.w. as verwysende na Jesus.  Die bekendste voorbeeld is Jesaja 7:14 tot 16 waar dit sê “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem. Dikmelk en heuning sal hy eet ...”  Die vraag is nou of daar IN DIE OU TESTAMENT  moet staan: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en Hom Immánuel noem. Dikmelk en heuning sal Hy eet, ens.  Die plan van die nuwe Bybel was om dit nie te doen nie, want die oorspronklike teks het nie daar hoofletters nie, en in ander tale soos Engels word dit nie gedoen nie, en ‘n hele klomp ander redes. Waar Jesaja hierdie woorde bv. vir die koning sê, bedoel hy 'n kind wat net daar gebore gaan word.  Die Nuwe Testament kom honderde jare later en interpreteer dit as verwysende na Christus, en so glo ons dit natuurlik.  Die vertaler beskou homself egter as ‘n wetenskaplike wat die betekenis van die woorde of sinne getrou oordra. Sy geloof kom streng gesproke nie in die prentjie nie - selfs al bots iets met sy geloof moet hy dit nog steeds presies oorvertaal. Hy wil nie hoofletters en kleinletters insit wat nie daar was nie - hy wil dit los soos dit oorspronklik geskryf is.  Waar die Nuwe Testament sulke tekste Messiaans intepreteer, is dit natuurlik die saak van die Nuwe Testament en sal die vertaler dit weer daar net so getrou weergee.  Sommige mense sê egter onthou, ons is Christene en ons maak ‘n Christelike vertaling – as die Nuwe Testament iets Messiaans interpreteer IS dit ‘n Messiaanse verwysing en kan ons dit maar in die Ou Testament so gaan aandui. Die polemiek is dus ’n vertaalkwessie en geensins ‘n poging om Christus weg te vertaal nie – die Nuwe Testament spel dit mos reeds duidelik uit.  Hoe gaan die nuwe vertalers dit daar probeer wegvertaal (as hulle dan nou wou)?  As ek reg het, het die Bybelvertalers besluit om twee weergawes te maak. 

Die Bybelgenootskap is erg omgekrap omdat hulle verdink word van ‘n komplot en dies meer.  Lees gerus by die bg. webruimte hoe hulle hulself verdedig – ek was vroeër deel van die Kerklike Advieskomitee (of so iets) van die Bybelgenootskap en kan getuig van hierdie mense se opregtheid en kundigheid.  Hierdie stories en petisies kan maar end kry.

Onthou net – nie een vertaling is volmaak nie, en die nuwe een sal ook nie wees nie.  Nogtans is dit altyd weer ‘n voorreg om ‘n splinternuwe Afrikaanse Bybel vas te hou, deur te blaai, te lees...  Die belangrikste van alles is om die Bybel – God se Woord – te vat en oop te maak, hardop te lees, en die woorde daarvan in jou hart te laat ingaan.  Dit sal jou lewe verander!

 

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies

  • TEXTUS RECEPTUS (oftewel MAJORITY TEXT)?

    Hieronder is die Bybelgenootskap se amptelike verklaring oor die bronteks wat hulle vir die nuwe Afrikaanse Bybel (Die Bybel - 'n Direkte Vertaling), wat oor 'n jaar of drie uitkom, gebruik.  Lees dit gerus.  Ek stem daarmee 100% saam.  

    As mens nog dieper op die saak ingaan, kan mens 'n studie doen van elke liewe "weglating" of "verandering" en sien hoekom die teks-samestellers dit nie ingesluit het nie.  Soms is dit verbasend om te sien hoe 'n vers in die teks beland het, bv. soos 1 Joh 5:7b-8a:  Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde...  Toe Erasmus dit uit sy teks (die Receptus) wou weglaat, omdat dit in geen Griekse teks voorkom nie, het mense beswaar gemaak omdat dit wel in die Latynse (latere) Vulgaat was, die kerkbybel van hul tyd.  Toe het hy gesê dat hy dit sal insit as iemand dit vir hom kon wys in 'n Griekse teks.  Uit al die duisende Griekse tekste wat bestaan is dit toe gevind in een (baie jong) teks (en in 'n ander een, maar die was 'n bekende vervalsing), en op grond van sy belofte het hy dit toe ingesit - en was dit dus ook in ons 1933-Bybel.  Dis egter snaaks dat daardie verse vir 1500 jaar nooit in die Bybel was nie, en toe skielik in die Bybel verskyn!  Duidelik was dit nie deel van die oorspronklike teks (die outografon) van Johannes nie.  

    Nogtans baklei sommige oor sulke dinge, vernaamlik omdat dit in die geliefde ou Bybels, soos die King James, voorkom, waarby sommige nog sweer.  [Sommige preek ook nog in  King James-Engels, want dit klink sommer soveel geesteliker en hulle kom nie eers agter hulle maak baie foute nie, want hulle woorde het soms ander dinge beteken as wat ons vandag dink.  To sit down at meat het bv. nie bedoel hulle eet vleis nie, maar verwys na vaste spys oor die algemeen - bv. brood.  Hulle woord vir vleis was flesh.  Veral Afrikaanse mense moet hulle nie in die King James Ingels begeef nie, so mooi as wat dit klink. Lieweland, meeste Afrikaners sukkel om "goedertieren" of "deemoedig" uit die Ou Vertaling te verduidelik, hoe dan nog die Engels van 400 jaar gelede.] Anyway...

    ,,,ons kan maar die nuwe teks aanvaar.

This reply was deleted.