Forum 2.0

Antwoord op... DIE DOOP

Verskeie mense het my iets hieroor gevra, n.a.v. een van ons dagstukkies. Nie so maklik om oor die doop te skryf nie! Iemand soos ek, wat klein en groot gedoop is, en steeds 'n waardering vir beide het, is nie op 'n tradisionele plek wat dit betref nie. M.a.w. ek is nie 'n tradisionele kleindoper, of 'n tradisionele grootdoper nie.  Ek het hieronder nogal uitvoerig hieroor geskryf (kliek op die attachment hieronder), maar is bevrees dis dalk 'n bietjie te lank of teologies vir sommige (dis nie eintlik teologie nie).  Ek gee dus puntsgewys 'n opsomming hieronder van wat ek van die doop geskryf het - as jy die volledige argument wil lees moet jy maar die dokument download - (dit neem net 'n sekonde!) Ek hoop dit is vir jou waardevol. Hier is my opsomming:

  • Alle gelowe het reinigingsrituele, en ons het ons s'n (die doop) van die Jode gekry.  Die Jode doop al sedert die tyd van Moses tot vandag - elke sinagoge het steeds 'n mikveh (doopbad) in;
  • As Johannes die Doper die mense oproep tot bekering is die doopsimbool nie vir hulle 'n nuwe ding nie - hulle weet presies wat dit beteken: 'n uiterlike simbool van 'n innerlike strewe om voor God rein te wees;
  • Jesus doop eers net soos Johannes ('n bekeringsdoop), maar dit word later 'n Christelike doop, met 'n ryker betekenis as net bekering.  Bekering word ook 'n inlywing in sy liggaam in - en die doop simboliseer dit;
  • In die res van die Nuwe Testament doop die apostels mense direk wanneer hulle tot bekering gekom het.  Hulle doop egter sommer die hele gesin.  Dit is die logiese ding vir hulle, want hulle het nie die individualisme geken van ons moderne tyd nie. As die hoof van die huis tot bekering gekom het, het sy huis tot bekering gekom - vroue en kinders se opinies is nie eers ingewin nie, want dit het nie veel getel nie.  Hulle kultuur was sterk gemeenskaps- en groepsgedrewe;
  • Die kerk het van die begin af nie veel kommer gehad oor die hoeveelheid water nie: as daar baie water was het hulle onderdompel, en as daar min was het hulle begiet;
  • Die ontwikkeling van die doop in die kerk was nie gelykmatig nie - verskillende dele van die kerk het verskillend gedoop op verskillende tye.  Alle bekeerlinge is steeds gedoop, maar 'n voorbereidingsproses het vroeg al ingekom en so het kategese ontwikkel.  Die siening het ontwikkel dat die sakramente iets spesiaals aan mense doen - dit dra bv. genade oor - en so is begin dink aan die doop as meer as net 'n simbool, dis ook 'n seël, waarmee God sy stempel op iemand sit.  As jy gedoop is, is jy 'n Christen, m.a.w. Na 300 jaar was die kinderdoop wydverspreid toegepas, met die teologie dat die doop aan my kind die genade sal gee om gered te word.  Die katolieke beskouing is dat die doop die kind ook 'n geestelike geboorte gee (hom wederbaar) en dat hy nou moet opgroei in die geloof.  ('n Gedoopte gaan nie hel toe nie, maar mag dalk duisende jare in die vagevuur moet boet as sy lewe nie reg was nie).  Die hele denke van die premoderne tyd (bv. voor die reformasie) is dat God God is en doen wat Hy wil en dat sy kerk die middel is waardeur ons gered moet word - immers het Jesus die sleutels van die koninkryk vir Petrus gegee...
  • In die reformasie het Calvyn die kleindoop logies begrond vanuit die Ou Testament deur bv. te sê daar is twee verbonde, elk met hulle tekens: die pasga het die nagmaal geword, die Sabbat die Sondag en die besnydenis die doop.  Die nuwe verbond is op elke punt net beter as die oue;
  • Uit die Anabaptisme (ook uit die reformasie) het die hedendaagse grootdoop-siening ontwikkel.  Dit vind byval by ons individualisme: ons glo ons is unieke individue wat ons persoonlike reg en vryheid uitoefen om keuses te maak.  Ons preek dat mense Jesus as "persoonlike Saligmaker" moet aanneem en in 'n "persoonlike" verhouding met God moet staan.  Nie verkeerd nie, maar let op dis nie woorde wat in die Bybel voorkom nie.  Dan laat ons ons ook doop as simbool van ons besluit. My kind moet eers grootword en dan self besluit en dan kan hy gedoop word - dis immers logies?
  • Ek glo persoonlik as ons uit Bybelverse mekaar toetakel oor watter doop reg is (en ons gebruik nogal dieselfde verse) en ons verstaan nie hierdie historiese konteks nie, mis ons die betekenis helemaal - ons is kinders van ons tyd (en ander ook);
  • Kleindopers en grootdopers is ewe ver van die Bybelse voorbeeld af:  in die Nuwe Testament is gedoop op bekering, maar gereformeerdes doop 15 jaar of langer voor bekering en pinkstermense doop weer 15 jaar of langer na bekering!
  • Wat moet ons nou met die doop maak?  Wel, ek dink ons moet eerstens ophou baklei en begin vergiffenis vra - Jesus het sekerlik nie bedoel dat die doop ons so laat twis nie.  Hierdie is my opinie:  Ons moet ophou om die doop die belangrike ding te maak in preke en argumente en dit so 'n bietjie na die agtergrond toe laat gaan.  Ons moet nederiger wees en nie maak of ons alles weet nie - die wat die hardste praat weet dikwels die minste. Kleindopers moet aanvaar dat mense 'n behoefte het aan die simbool van die doop en baie meer self daarmee werk.  Grootdopers moet weer verstaan dat die doop niemand in die hemel gaan bring nie en moet rustig wees as iemand nie reg voel om hom te laat doop nie.  Die teologie moet maar iewers groei in ons verstaan dat daar 'n eenmalige inlywing is, maar ook 'n herhaalbare simbool, dat daar een doop is maar verskeie toepassings, ens.
  • Persoonlik glo ek dit is die naaste aan die Bybelse voorbeeld as ons nie suigelinge doop nie, maar kinders (wat kan verstaan - sê maar op sewe jaar plus) op hulle bekering.  Op hulle graad van bevatlikheid is hulle so opreg dat ons soos hulle moet word, sê Jesus, nie hulle soos ons nie. 
  • Ons verstaan van die doop is so gebroke dat ons maar almal nog op die journey is en heel eerste seker moet maak dat ons nederig bly wat dit betref en die liefde en eenheid voorop stel.
  • My eie getuienis (nie in die dokument nie): Ek is gedoop as suigeling deur my pa, 'n gereformeerde predikant en absolute man van God, baie vrugbaar in 'n bediening vol herlewing en die (charismatiese) gawes van die Gees.  Sover ek weet was hy nie self groot gedoop nie.  Ek het ook my eie kinders as suigelinge gedoop. Ek het mettertyd anders begin dink oor die doop as die tradisionele standpunt, maar die tyd was nie reg vir my nie.  Toe ons 'n paar jaar gelede in Israel was, het ek my vrou en kinders in die Jordaan gedoop (op belydenis van hulle geloof, maar ook met 'n rykdom van betekenisse) en is ek self daar gedoop deur 'n onbekende Amerikaanse pastoor.  Dit het inderdaad vir my baie beteken.

Die volledige dokument oor hoe ek die doop sien kan hier afgelaai word:  kliek hier

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies are closed for this discussion.