Forum 2.0

Antwoord op... EK GEE ALTYD TOE

Kan u asb vir my die term “nederig” definieer of beter omskryf. Om konflik te vermy is ek altyd die minste, maar dit laat my allermins goed voel!

 

ANTWOORD

  

‘n Goeie vraag nè – is ek nederig, of net swak?


Ek dink die antwoord lê by die volgende gedagtes:

Nederigheid is iets anders as minderwaardigheid. "Konflikvermyding" (wat ‘n algemene konflik-styl is – myne ook) is dalk nie sleg nie, maar dis ook iets anders as nederigheid. Onvolwassenheid en onsekerheid is ook nie nederigheid nie. Nederigheid is eerder ‘n geestelik-volwasse kwaliteit:

  • Wat myself al hoe meer sien soos ek is – feilbaar, met sonde en gebreke, afhanklik van God
  • Wat meer en meer bewus word dat God se genade alles doen, en my eie bydrae niks byvoeg nie
  • Wat myself kan oorkom (hoogmoed, egosentrisme, vleeslikheid) ter wille van die Here en van ander
  • Wat insluit aardsheid, gegrondheid, natuurlikheid, menslikheid – om gemaklik te wees op grassroot-level

Die teenoorgestelde van nederigheid is dus hoogmoedigheid, "ekkigheid", trots, “ek-is-beter-as-jy”, “ek-is-geesteliker-as-julle”, “kyk-na-my”, “ek-is-nou-diep-geestelik”, “kyk-hoe-nederig-is-ek” en sulke dinge en alle meerderwaardigheid, opgeblasenheid, snobisme.

Mens moet sterk wees om nederig te kan wees: spiritual directors sê jy moet tot op 30 kans kry om jou ego te ontwikkel (veral mans). "Egosterkte" (iets ander as ‘n “groot ego”!) is gelyk aan rustige selfvertroue en verskaf die basis vir opregte nederigheid. Die sterk persoon is realisties en volwasse en weet wie hy is en wat hy kan doen, en ook nie kan doen nie.  Vanuit innerlike krag kan ons besluit om ander te laat wen, en kan ons (seker in onsself) terugstaan wat betref aandag en erkenning. Dit is juis die onvolwasse persoon wat altyd aandag en erkenning moet kry. Nederigheid is 'n keuse wat ons uit 'n posisie van sekerheid maak. As ons weet wie ons is (ook in die Here) kan ons makliker sulke keuses maak.

As jy sleg voel oor jou terugstaan doen jy dit miskien vanuit ‘n posisie van onsekerheid. Dan doen jy dit nie uit liefde nie, maar uit vrees. Jy moet dalk meer selfgeldend wees - innerlik sterk word. Ons moet leer om ons grense ("boundaries") sterker te handaaf. Oefen jouself daarin VRIENDELIK maar FERM om NEE te kan sê–

  • sê "nee dankie" vir klein dingetjies om mee te begin,
  • sê nee vir take of versoeke wat ontoepaslik is: “ek is jammer, maar ek het nie tans kapasiteit vir dit nie” of “ek het laas keer uitgehelp, dis nou iemand anders se beurt”; “ek wens ek kon, maar my agenda is vol”; “dis nie my verantwoordelikheid nie – my pligstaat gee my reeds te veel om te doen”; “as ek dit moet aanneem, moet ek iets anders laat vaar – kan ek met jou daaroor kom praat (vir die baas)?”
  • begin jou eie smake en standpunte te noem as ander hulle standpunte noem (sê “nee, ek is nou weer mal oor die Blou Bulle” of wat ook al) - leer dus om vriendelik te VERSKIL;
  • kommunikeer duideliker wat jy wil hê of nodig het: “ek het nodig dat hierdie werk geteken is voor dit by my kom” of “ek het nodig dat jy my bel voor jy ry, asseblief”
  • leer om vriendelik maar ferm te sê as iets nie reg verloop het nie: “ek is baie jammer Hennie, maar ons ooreenkoms was dat jy hierdie mense sou bel”

Dan moet ons ook kan leer om toepaslik JA te sê! Dis eweneens 'n swak ego wat vir alles NEE moet sê. Beide moet egter gebeur uit 'n posisie van sekerheid. As Christene sê ons ook dikwels JA vir SY wil, vir ANDER se voordeel. Dis noem ons liefde - maar ook dit is 'n keuse, nie 'n vrees-reaksie nie.

Die Skrif sê (1 Tim 1:7):

Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Replies are closed for this discussion.