Forum 2.0

Vraag

My persepsie van "die God van die Ou Testament" is van 'n harde God, maar in die Nuwe Testament is dit heeltemal anders.  Het God dan van karakter verander?

 

Antwoord

Haai daar, ja weereens ‘n moeilike en diep vraag.  Hoekom verskil die godsbeeld van die Ou en die Nuwe Testament?  God bly tog dieselfde – Hy het tog nie van karakter verander nie? Dis nie ‘n maklike antwoord nie, want dis goddelike dinge, maar ons kan iets waag...

 

JA DAAR IS ‘N (GROOT) VERSKIL

Gelowig aanvaar ons dat ons tog met een God deel, maar daar is ‘n besliste klemverskil tussen die Ou en Nuwe Testament: in die Ou Testament is daar ‘n groot klem op God se geregtigtheid en heiligheid.  God is ver en verhewe en eis bloedvergieting (offerande) as boetedoening vir sonde.  Hy kan net genader word deur gehoorsaam te wees, rein te wees en offers te bring via ‘n sisteem van priesters en reëls.  Sy wet omvat die hele lewe en eis totale gehoorsaamheid.  Hy is ‘n “jaloerse” God, wat onverdeelde trou eis.  Sy toorn ontvlam as die Israeliete oortree en by tye maak hy duisende van hulle dood.  God moet “gevrees” word.  In die Nuwe Testament is God ‘n Vader – die Vader van Jesus Christus, maar ook die Vader van elke gelowige.  Hy het mededoë met sy volk en gryp in deur sy Seun te stuur as Messias.  Christus word God se gesig, sy beeld, op die aarde.  Elkeen wat Christus aanvaar, ontvang genade en word deel van sy nuwe volk - sy verbond brei uit.  Christus herinterpreteer die wet deur die woord LIEFDE daaroor te skryf.  Jesus Christus se groot belewing is dat Hy ‘n geliefde is – Hy wil dan ook daardie liefde aangee.  Hy gee opdrag dat sy dissipels vergiffenis van sonde en versoening met God moet gaan verkondig en die liefdeswet moet gaan uitleef.  Johannes skryf later: “God IS liefde.”  God moet “liefgehê” word – die groot gebod.  Ja,  inderdaad ‘n verskil!

 

MAAR ONS MOENIE STEREOTIPEER NIE

Laat ons egter byvoeg dat ons nie moet stereotipeer nieOok in die Ou Testament is God barmhartig en genadig, en bly Hy nie ewig kwaad nie.  Hy weet dat die mens maar gras is en vergeef hulle hul oortreding.  Hoe mooi beleef Dawid dit nie as hy skryf: Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie – Hy  laat my neerlê in groen weivelde, na waters waar rus is, lei Hy my heen...  ja, ook dit is die Ou Testamentiese God.  En ook in die Nuwe Testament is God streng – mens dink aan die Hebreërbrief-skrywer wat waarsku: vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God...  Ons kan sê dat die Ou en Nuwe Testament dieselfde God beskryf – as Jesus bv. die groot gebod aanhaal, haal Hy uit die Ou Testament aan.  Maar nou ja, daar is ‘n besliste klemverskil.

 

DIE KONTEKSTE VERSKIL DRASTIES

Ons moet wel die verskillende kontekste in ag neem.  Die Ou Testament is geskryf in ‘n baie meer primitiewe tyd toe daar wel vir oorlewing geveg is.  Ja, dinge was nogal op elke terrein harder en wreder – dis maar soos dit was.  Die wêreld was sterk hiërargies ingerig en ‘n kind het nie eers sommer enige tyd met sy pa gesels nie, wat nog te sê die stamhoof, die rabbi, hoëpriester of koning.  Mense in magsposies moes deur tussengangers genader word. God troon nog bo al hierdie aardse gesag uit.  Daar is nie gedink aan ‘n “persoonlike verhouding” met God nie – alleen maar volle gehoorsaamheid is verwag.  Ja, die Ou Testamentiese godsbeeld kan in so ‘n konteks goed verstaan word.  In die Nuwe Testament (200 tot 2000 jaar later) is daar steeds ‘n baie sterk hiërargie betrokke, maar die lewe was baie meer gesofistikeerd en beskaafd.  Hebreeuse denke het die wet begin interpreteer en so God se wil “beter verstaan”.  Jesus se denke sluit bv. ook aan by ontwikkelings in die Joodse denke.  Die Griekse filosofie het ‘n sterk grondslag gelê vir denke oor die dieper, ideale of geestelike aard van materiële dinge en die Romeinse Ryk het ‘n gesofistikeerde regstelsel gehad wat sekere regte aan almal toegeken het, selfs die heel onderste in die ry.  Die ekonomie het ook reeds baie meer gesofistikeerd en divers geraak en vroue het daarin ‘n plek begin kry.  Opvoeding van kinders het meer die norm geword.  Meer mense kon lees en skryf en dus toegang kry tot hierdie denke. Hieruit alreeds sien ons ‘n heeltemal ander konteks vir die Nuwe Testament.   Johannes se geskrifte wat die meeste klem lê op die liefdevolle God, is ook die geskrifte wat die “Grieksste” voorkom in die Bybel.  Hierdie dinge is egter net agtergrond. 

 

GOD EN ONS GODSBEELD

Moet ons daaruit aflei dat generasies maar elk hul eie God “maak”, volgens hulle denke en behoefte?  Darem nie heeltemal nie.  Iets daarvan is wel waar, want ons elkeen het ons eie godsbeeld – daardie persepsie van hoe God is wat by ons gevorm het uit ons kinderjare:  wat ons geleer is en ook hoe ons hanteer is deur gesagsfigure, veral pa en ma.  So het ek en jy, die Jode en die Grieke en Paulus en Dawid verskillende godsbeelde, wat mens kan gaan beskryf, en is daar ‘n Ou Testamentiese en Nuwe Testamentiese godsdbeeld.  Dit sê egter nie dat elkeen net hul eie god maak nie – God is so groot dat ons denke Hom kwalik kan insluit.  Elkeen van ons het net ‘n venstertjie op Hom, en daardie venster (ons godsbeeld) is deel van ons sielkundige verwysingsraamwerk, ons agtergrond, kultuur, persoonlikheid, waardesisteem, behoeftes, ens.  Dit is juis belangrik dat elkeen sy godsbeeld ondersoek en seker maak dat dit nie gebrekkig of eensydig is nie.  Dit is juis op die areas waarin ons godsbeeld kortkom waar ons groei lê. 

 

Miskien moet ons byvoeg – aangesien ons oor God se Woord praat – dat God met ons deel volgens ons behoefte.  Hy praat die taal wat ons verstaan.  In die Ou Testament het God dus die taal gepraat wat die Israeliete kon en moes hoor.  ‘n Ander taal sou hulle nie bereik het nie.  Hulle was primitiewe mense en Hy gee aan hulle ‘n sterk wet.  In die Nuwe Testament eweneens:  God openbaar Homself soos wat dit toe nodig was, en volgens die Skrif is sy groot openbaring die van sy Seun:

 

JESUS CHRISTUS KOM VERANDER ALLES

Die groot verskil tussen Ou en Nuwe Testament is Jesus Christus.  Onthou, ons verstaan die Ou Testament deur die bril van die Nuwe en die Nuwe Testament is alles oor Jesus Christus.  Ons kan nie die Ou Testament sonder Christus verstaan nie.  Ja, ook die Ou Testament wys na Jesus Christus.  Toe  Jesus kom, is Hy SY TYD MYLE VOORUIT en bring ‘n radikale nuwe blik op God:  Hy stel Homself bekend as die Middelaar na God toe – die Weg – en via Hom kan elkeen met God in ‘n verhouding wees.  Die sleutel om God te ken is om Hom (Jesus) te aanvaar.  Niemand gaan na die Vader as dit nie deur Hom is nie.  In Hom bring God sy koninkryk tot stand.  In die koninkryk word al die aardse waardes omgegooi:  laastes word eerstes en omgekeerd, leiers word dienaars, kinders, vroue, heidene en sondaars kry ‘n plek.  Liefde en deernis is wat God vra - radikaal so, want ons moet selfs ons vyande liefhê, seën wie ons vloek, ens.  Jesus neem die hele godsdiens binnetoe: hy onderspeel die uiterlike deelname en onderhouding en beklemtoon die innerlike motief.  Die hart moet reg wees: ons moenie net nie moord pleeg nie, maar ook seker maak dat daar nie haat in ons hart is nie, dis al reeds moord.  Sy benadering tot die wet is om die essensie daarvan te beklemtoon – wat BEDOEL God met die Sabbat, met reinheid, ens.  Hy herinterpreteer die wet op die wyse en skraap selfs wette uit:  die “oog vir ‘n oog” haal Hy bv. sommer uit.  Hy bring die liefde in.  Hy beskryf God as liefdevolle Vader (in die Verlore Seun) – teenoor die Ou Testament wat God net enkele kere as Vader noem.  God vra ’n opregte, onskuldige, afhanklike lewe (in die Bergrede).  God vra liefde (in die Barmhartige Samaritaan).   Ja, ons sien ‘n kragtoer:  in Jesus is dit uit met die oue en in met die nuwe.  Mens kan sê dat Hy eiehandig die hele Ou Testamentiese godsbeeld kom verander.

 

Daar is nog een punt oor Jesus en dit is ‘n teologiese een, maar dis die groot sleutel.  God is in die Nuwe Testament wat Hy is as gevolg van Jesus Christus.  Christus is die rede vir die twee godsbeelde.  God se eis vir geregtigheid, gehoorsaamheid, volmaaktheid en heiligheid word slegs deur Hom nagekom.  Sy kruis is egter ‘n volkome Paas-offer vir almal.  Die wat “in Christus” is, is met God versoen.  God is nie vir hulle kwaad nie – daar is geen woede of toorn of vrees nie.  God is hulle Vader, God het hulle lief, God het hulle vergewe.  Daar is geen Ou Testamentiese godsdiens of godsbeeld meer nie – na Jesus is daar net die Nuwe.

 

Ek dink dit is die regte manier om oor hierdie saak te dink.

 

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –