Forum 2.0

Vraag

Die vraag van 'n jeugleier was hoe sy moet antwoord op jeug se moeilike vrae oor (1) hubbly bubbly, (2) body piercings (3) Goth musiek en (4) veelrassige huwelike...

 

Antwoord

Ek dink daar is eintlik drie gesprekke nodig met die jongmense...

 

Gesprek een

Ek dink mens moet heel eerste vir mense probeer wegstuur van die gedagte dat reg en verkeerd iewers in ‘n wet lê wat elke fynste detail uitspel.  Dit lei tot die gedagte dat mens ‘n saak kan en moet vat tot so na as moontlik op die rand van die sonde en dan is jy mos nog steeds ok.  Dis ‘n tegniese en eksterne benadering tot  reg en verkeerd.  Dis wat die Fariseërs ook gedoen het met honderde reëls.  Die maklikste is natuurlik om sommer alles te verbied: geen rook, geen drank, geen vryery, geen dans, geen popmusiek, ens.  As jy egter sien dat dit nie gaan werk nie (en dit gaan nie) moet jy lukrake strepe iewers begin trek:  hoeveel sigarette is ok, tot waar mag ek vry, wanneer mag ek wat drink, watter tattoeërings is aanvaarbaar en wanneer – watter dans is in, watter uit en op watter musiek.  En elke ou trek sy streep waar hy dink goed is (en wie moet ons nou eintlik glo?).  Jesus hou glad nie van die hele benadering nie.  Vir Hom gaan dit oor die hart.  Hy sê jy kan veilig binne in die (mensgemaakte) reëls bly, maar jou hart kan steeds ver van God wees.  Hy wil hê ons moet in ‘n verhouding met God wees en dan vir HOM vra wat HY dink is vir ons goed.  Verhouding kom voor alles, en om Hom te behaag is die belangrikste.  Die vraag moenie wees “Hoe ver kan ek dit tegnies push voor dit sonde is” nie, maar eerder “Wat kan ek doen om God te behaag met my lewe?”  Dit is twee verskillende rigtings.   Ek dink die eerste gesprek wat mens moet voer is die bg. een. Hoe belangrik is God vir my?

 

Gesprek twee

Die tweede gesprek moet wees hoekom wil jy dit doen – en ek bedoel nou rook, drink, piercings kry, ens.? Jongmense doen dit (1) om in te wees of (2) om hul onafhanklikheid uit te druk of – ek sal doen wat ek wil – of (3) om te rebelleer.  Ek dink daar is ‘n nuttige gesprek hierin oor die feit dat adolessente onttrek van hul ouers se identiteit ten einde hul eie identiteit te vind maar dan deur ‘n tussenfase gaan waarin hul hul portuurs se identiteit aanneem as ‘n soort brug na ware self-identifisering as iets unieks.  “In wees” raak dus baie belangrik maar kan tot verkeerde besluite lei wat permanente nagevolge het, bv. middelmisbruik, swangerskap, tattoërings, ens.  Ek dink ‘n plek waar tieners met begrip hul frustrasies kan deel oor die ouerhuis, die establishment en alles wat so vreeslik outyds is en kan lug teen WAT hulle nou eintlik rebelleer sal al baie help om hul deur die fase te kry sonder skade.  Daar is ‘n begrypende jeugleier en geestelike mentor goud werd.

 

Gesprek drie

Dan eers kan mens die gesprek voer oor die spesifieke punte en die volgende is my persoonlike opinies:

  • Hubbly is gewone tabak en nikotien soos sigarette en mens rook veel meer met dit as met ‘n sigaret, want ‘n sigaret duur 5 minute maar aan daardie pyp suig jy vir ure.  Baie ongesond en ongewens...
  • Body piercings (soos dit vandag voorkom) word nêrens as sulks verbied nie – maar merke maak op jouself is tradisioneel iets wat heidene gedoen het (in die konteks van afgodediens of rou), dit kom nie voor in die Joodse en Christelike tradisie nie.  Ek dink dit (en tattoeërings) funksioneer vandag ‘n bietjie anders.  Nogtans word in die grootmenswêreld daaroor gefrons en jou bankier, dokter, apteker, onderwyser ens. sal nie sommer vol piercings wees nie.  As jy in daardie wêreld wil meeding, moet jy daardie goed afhaal.  As volwassene sou ek sê dis onnodig en moontlik gevaarlik veral deur die tong, wang of neus (om van die ander plekke nie eers te praat nie). Ek sal ernstig die vraag vra HOEKOM – op die meeste sou ek sê kry vir jou ‘n oorring en dra dit as jy in ‘n casual situasie is alleen.  Maar selfs daar het dit maar allerhande konnotasies – nog beter is om die behoefte te laat verbygaan!
  • Gothic staan vir my teen die hele gees van Christus.  Die een is donker, swaar en negatief en die ander is oop, vry en positief.  Gothic (en emo) is ‘n subkultuur wat vir my saamhang met probleme, vervreemding, depressie, ens. en die musiek is ook vol daarvan.  Mense sluit aan want hulle voel hulle word aanvaar en behoort by diegene met soortgelyke probleme.  Ek dink nie die woorde van daardie musiek is eintlik ‘n Christen se belydenis nie.  Ek dink ‘n mens moet eerder besluit wat wil jy wees.  ‘n Christen kan natuurlik sterk emosioneel beleef en bewus wees van die pyn in sy eie hart of in die wêreld, maar om jou te immerse in daardie wêreld maak dinge erger, nie beter nie.  Soms doen mense maar net mee want dis vir hulle cool, maar weereens sal jy nie sommer ‘n Goth bankier of onderwyser voor jou sien nie.  M.a.w. iewers word mense groot.  ‘n Ou Goth is amper soos ‘n ou hippie of ou cowboy – so half sad en vasgevang in ‘n era.
  • Wat betref veelrassige huwelike – die Bybel is ook nie daarteen nie (Moses het heel moontlik ‘n swart vrou gehad) – die probleem is eerder prakties en is dieselfde as wanneer ‘n Afrikaner met ‘n Italianer trou, ‘n Duitser met ‘n Japanees, ens.  Dit gaan nie oor die ras as sulks nie – maar oor die verskille in waardes, kultuur, agtergrond, gewoontes, verwagtings, ens.  Huweliksprobleme is gebaseer op ons verskille en daar is bevind dat diegene wat die meeste soos mekaar is die minste baklei.  Dit sê nie dit kan nie of mag nie werk nie, daar is net meer risikos en implikasies.  Die blote feit dat ‘n man en vrou met mekaar trou bring al genoeg verskille in vir ‘n leeftyd se stryd – dalk wil mens dit nie nog verder kompliseer nie!

 

Ek wil ook nog iets skryf oor ‘n ander populêre vraag van jongmense – nl. hoe ver mag ons vry, maar dit later.

You need to be a member of jimileroux30 to add comments!

Join jimileroux30

Email me when people reply –

Replies

  • Hi Jimi, ek hou baie van jou aanslag en antwoorde hier. Ek het so paar jaar gelede 'n fantastiese boek gelees wat aansluit by wat jy sê: Why Christian Kids Rebel (http://www.kalahari.net/books/Why-Christian-Kids-Rebel/632/27780360...). Ek kan hierdie boek sterk aanbeveel. Die belangrike ding wat ek opgetel het in verskeie boeke wat ek al gelees het oor hierdie onderwerpe is dat die jongmense erg ingestel is op hul ouers se Belydenis vs Uitlewing daarvan. Pa en Ma is elke Sondag in die kerk, Pa is op die Kerkraad, en Ma bak koek vir die basaar, ens ... maar by die huis en by die werk is Pa en Ma net soos die wêreld. Saterdag vloek Pa voor die TV wanneer die rugby op is, en die dag daarna is hy Ouderling. Kinders haat dit en baie het die Kerk en hul ouers se geloof opgegee hieroor. Kinders wil nie in die spanning tussen Belydenis en Uitleef vasgevang word nie en rebelleer dan daarteen. Hulle soek nie daai valsheid nie en draai dan na 'n kultuur wat meer "genuine" is volgens hulle.
    • Haai Francois - jy is m.i. 100% reg.  Jongmense is baie fyngevoelig vir die "integriteitsgaping" wat jy hierbo beskryf.  Die woord wat die wêreld vir dit het is natuurlik nog meer beskrywend, nl. "skynheiligheid"!  Mens is nie so seker of dit in die subkulture werklik met meer integriteit daaraan toegaan nie, maar as jy in glashuise woon... ek hou van die feit dat jy ook aan die jeug se kant is, en waardeer die verwysing na die boek.  Dit lyk baie waardevol. Goed gaan!  Jimi
This reply was deleted.